Kolskoot – 07 August 2014

0
417

Goeiedag

“Ons paspoorte is reg. Liverpool, Southampton, Salisbury en Glasgow, hier kom ons!”
So begin Sporie Bezuidenhout ons indaba. Ja, hy, Bontie Bonthuys en Stywelip Carrington gaan vir Stywelip se familie in Engeland kuier.
Hulle gaan gholf speel op Liverpool-gholfklub (Hoylake) se kusbaan waar die Britse Ope vanjaar gespeel is. Hulle gaan ook Anfield, die sokkerhoofkwartier van Liverpool, besoek en ’n draai maak in Glasgow waar ons Suid-Afrikaners die medaljes op die Statebondspele verwerf het.
Voordat Botterbul Bester die stoel kan inneem, babbel Sporie voort: “Ja, dalk woon ek nog die Premierliga-wedstryd tussen Liverpool en Southampton by.” Hy is hart en siel ’n ronnebol-man.
“Orde, manne. Julle moet jul besoek oorsee geniet. Ek en Oom Sjert sal die fort hou en julle op hoogte hou van die 2014 Curriebeker-reeks en die Bokke se eerste toets teen die Poemas, maar nou eers die Waratahs se Superrugby-sege oor die Crusaders, die Statebondspele en die Bok-groep wat gekies. Daar is nie tyd vir meer nie,” besluit hy.
“Hardlooprugby het Saterdag in Sydney in die eindstryd van die Superrugbyreeks tussen Waratahs en Crusaders geseëvier. Dit was ’n skouspel van klipharde, maar aanvallende rugby en Suid-Afrika moet kennis neem van hierdie benadering van die Australiërs. Die rekordgetal van 61 823 toeskouers wys dat rugby in Australië groei en blom,” laat Oom Sjert van hom hoor.
“Dit was die ondernemende spel, puik hantering en die manier waarop die spelers balbesit teen genadelose verdediging behou het, wat my die meeste beïndruk het. Ons Bok-breier, Heyneke Meyer, moet hiervan kennis neem. Die Waratahs se 33-32 sege was vir hulle die derde keer skeepsreg teen Crusaders,” lug Bontie sy mening.
“Sulke rugby kan ook weer die toeskouers teruglok na SA stadions, maar ek is bekommerd oor die baie oorsese spelers in Meyer se Bok-groep,” laat Stywelip van hom hoor.
“Daar kan nie baie fout met die Bok-groep gevind word nie – as die beseerdes en oorsese spelers in ag geneem word. Ek is bly dat Cobus Reinach en Damian de Allende hul eerste kans kry. Hulle verdien dit en wys spelers hoef nie oorsee te gaan om Bokke te word nie,” sê Oom Sjert.
“Ek dink dis tyd om oor die Statebondspele te praat. Ashleigh Moolman-Pasio, ’n voormalige wenner van die OFM Classic, het ons land se 40ste medalje in fietsry verower. Dit is bietjie kort van die mikpunt van 43 medaljes, maar die 13 goues is veral verblydend,” gee Botterbul weer rigting.
“Ja, Khotso Mokoena se goue in die driesprong is ’n bonus. Ons swemmers en rolbalspelers was puik. Nou verdien die atlete, Mokoena, Cornel Fredericks, Zark Visser, Rushwal Samaai, Sunette Viljoen en André Olivier die lof. En Johan Cronjé en die 4×100-aflosspan het medaljes naelskraap misgeloop.Dit kon 43 gewees het,” voeg Bontie by.
“Kêrels, ons moet afsluit. Wat van die kwota-stelsel in skolerugby en Saru se onvermoë om rugbyspelers in die land te hou?” wil Sporie weet.
Botterbul hou kop. “Wag, manne, ons kan weer oor drie weke bymekaar kom om koppe te stamp,” sluit hy af.

Groetnis