E Copy

Date:

Kolskoot – 06 November 2014

Goeiedag

“Die Springbokke is reeds in Dublin en speel Saterdag teen Ierland op Landsdowne Road. Daarna volg Engeland, Italië en Wallis. Vir Jean de Villiers en sy span gaan dit ’n ware vuurdoop wees teen vier van die sterkste skrumspanne ter wêreld. Vir Heyneke Meyer is dit ook ’n proefloop vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi, wat op dieselfde sagte en swaar velde gespeel gaan word. “Juis daarom maak Meyer se spankeuse nie sin nie. Op die vaskopkant is Marcel van der Merwe beseer en het hy Jannie du Plessis en daardie sterke derduiwel, Julian Redelinghuys, asook Coenie Oosthuizen, wat eintlik ’n loskopstut is, gekies. Aan die loskopkant is dit Tendai ‘Beast’ Mtawarira, Gurthrö Steenkamp en natuurlik Trevor Nyakane. Daar is twyfel oor Oosthuizen en Steenkamp se skrumvermoëns. Daarom is dit vir my onverstaanbaar dat die ander Leeu-stut, Schalk ‘Hond’ van der Merwe, nie ook saam toer nie,” begin Botterbul Bester ons indaba. “Botterbul, jy is die voorry-kenner en ek moet jou gelyk gee. Redelinghuys en Robbie Coetzee (haker), is weens hul spel en skrumwerk vir die Leeus in die Bok-groep ingesluit, maar waar is Schalk van der Merwe? Ek weet daar is mense wat die josie in is omdat Juan de Jongh en Cheslin Kolbe nie in die toerspan is nie, maar ek het De Jongh vir die Barabarians teen die Wallabies op Twickenham dopgehou en hy het nie indruk gemaak nie. Die Barbarians-wedstryd was werklik aanskoulik en byna al die Suid-Afrikaners het hul merk as impak-spelers gemaak. Veral die woelige Cheetah-skrumskakel, Sarel Pretorius,” gee Sporie Bezuidenhout sy mening. “Die Bok-toer is baie belangrik vir ons jong losskakels, Handré Pollard en Patrick Lambie, asook vir Johan Goosen, wat op verrassende wyse as heelagter ingesluit is. Ook vir die ouer manne, De Villiers, Victor Matfield, Schalk Burger en Bakkies Botha. Hulle moet wys dat hulle middel aanstaande jaar nog genoeg murg in die pype gaan hê om steeds staatmakers te wees,” laat Oom Sjert van hom hoor. “Seges is noodsaaklik met die oog op die Wêreldbeker en dit gaan baie interessant wees om te kyk of Meyer gaan voortbou op sy aanvallender spelpatroon waarmee die All Blacks getem is,” sê Bontie Bonthuys. “Wag. Kom ons gee eers ’n toejuiging vir Chad le Clos en die ander Suid-Afrikaanse swemmers, Myles Brown en die immergroen Roland Schoeman, met hul goues. Le Clos het jou werklik die derde keer die manstitel in Wêreldbeker-kortbadreeks verower. Dit is ’n uitmuntende prestasie en hy is nog nie eens op sy heel beste nie,” praat Stywelip Carrington saam. “Manne, wat van krieket? Die teenwoordigheid van die spelers van die Windies in die verskillende spanne het nuwe momentum met hul Calypso-krieket aan ons T20-reeks gegee, maar ek is bekommerd oor die Proteas in die T20-wedstryde teen die Aussies. Hul nederlaag in Sydney teen die Aussie A-span voorspel probleme vir JP Duminy en sy span,” stuur Oom Sjert die gesprek in ’n nuwe rigting. Die manne wil gholf en nog rugby gesels, maar ons skakel word verbreek. Wonder of dit beurtkrag is?

Groetnis.

Share post:

Popular

More like this
Related

Blind DJ calls for equality in the entertainment industry

A local blind disc jockey from Thaba Nchu calls...

Pencil in – 15 May/15 Mei 2025

15 May: Food & Wine Pairing: Experience an unforgettable...

Koekela hosts charity baby shower to support Childline Free State

Childline Free State was the beneficiary of a charity...

NAMPO 2025: Pure plaaspret in Bothaville

Die 2025 NAMPO Oesdag gaan hierdie week volstoom voort...