E Copy

Date:

Kolskoot – 05 June 2014

Goeiedag
“Manne, ek is so verward oor die Superrugby-reeks soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks. Wie van julle het verwag dat die Stormers met ’n erg verswakte span die Haaie in die haaitenk 21-19 sou klop en dat die Leeus 32-21 met die Bulle sou afreken? En moet nou nie slim wees nie, want nie een van julle het dié uitslae verwag nie,” begin Sporie Bezuidenhout ons weeklikse indaba.
Niemand wil die aas wat Sporie uitgegooi het, vat nie. Veral nie Botterbul Bester daar in die Jakarandastad of Stywelip Carrington langs die Haaiwaters nie.
“Ek was daar toe drie Suid-Afrikaners eerste by die eindpunt van die Comrades-wedloop in Durban verbygedraf het. Ons plaaslike langasem Bongmusa Mthembu het in 5:28:34 gewen, gevolg deur Ludwick Mamabolo van Gauteng en Gift Kelehe van Limpopo. Oorsese atlete het egter die toon in die vrouewedloop aangegee. Dit Brit Eleanor Greenwood het in 6:18:15 gewen, gevolg deur die Russiese tweeling, Elena en Olesya Nurgalieva. Vir my was die hoogtepunt toe ons veteraan Zola Budd Pieterse in 6:55:55 sewende geëindig het,” probeer Stywelip ook om die manne se aandag af te trek.
Dit is puur verniet, want Oom Sjert pak die bul by die horings. “Onthou, Saterdag is dit rugbyproewe vir Heyneke Meyer en sy Bokke op Nuweland wanneer hulle teen Nick Mallett se Wêreldspan te staan kom. En ek is bekommerd oor Suid-Afrikaanse rugby, want na die afgelope naweek is die Haaie die enigste Suid-Afrikaanse span oor in die wedloop om die Superrugby-titel. Die Bulle, Stormers, Cheethas en Leeus kan dit nie meer maak nie.”
“Ek stem saam, Oom Sjert. Ek gaan langs die veld wees, want daar is verskeie Suid-Afrikaners soos Rory Kockott, Wynand Olivier, Alistair Hargreaves en Juandre Kruger, wat saam met James O’Connor, Hosea Gear, Steffon Armitage en Sona Taumalolo-hulle die Bokke goed kan toets. Dit is darem jammer dat ’n uithaler-speler soos Juan Smith, wat saam met verskeie ander Suid-Afrikaanse spelers Toulon gehelp het om die Heinekenbeker en die Franse Top-4-titel te verower, nie ook hier is nie,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
“Ek dink Heyneke Meyer het ’n sterk Bok-groep met ’n goeie mengsel van ervaring en jeug gekies. Die Bokke gaan die Wêreldspan lelik opkeil,” probeer Botterbul ook sy mening uitspreek.
“Manne, onthou die Bokkies begin vandeesweek hul aanslag in die Junior Wêreldkampioenskappe in Nieu-Seeland. Met Handré Pollard wat hulle aanvoer het die jong Bokkie reeds Skotland 61-5 afgeransel, maar daar is sterk spanne soos die Baba Blacks, wat breed in hul pad staan,” probeer Sporie weer.
Stywelip is egter nog steeds omgekrap oor die Haaie. “Ek gaan tennis op Roland Garros kyk.’n Nuwe vroue-kampioen gaan gekroon word, veral met ’n jong ster soos Garbine Muguruza van Spanje en die stryd tussen die mans is fel al is Roger Federer uitgeskakel,” sê hy.
Toe praat almal weer gelyk oor rugby, tennis, gholf, atletiek en netbal. ’n Ware roesemoes!
Groetnis.

Share post:

Popular

More like this
Related

Southern Landfill Site in Bloemfontein linked to rising crime – Authorities respond

A recent raid at the Southern Landfill Site in...

US University visits UFS to strengthen sustainability collaboration

A symposium between the University of the Free State...

Rope Skipping Champion from Thaba Nchu Inspires Future Athletes

Lebogang Mosholi is a rope skipping athlete from Thaba...

Johan Pretorius goes from dance floors to decades behind the lens

As the country acknowledges Human Rights Day this month,...