Kolskoot – 05 February 2015

0
692

Goeiedag

“Geluk, Botterbul, met die Bulle wat Saracens 29-26 gegaffel het en die Stormers wat 39-31 teen die Toyota Cheetahs geseëvier het. Ek kan nie wag om te sien hoe die Sharks onder leiding van Gary Gold vanaand teen Toulon gaan vaar nie. Ons het verlede week van die Bafana vergeet. Ons mag nie politiek by ons indabas insleep nie, maar die nasionale sokkerspan en hul breier, Shakes Mashaba, laat my baie aan bekende politieke partye dink. Net ’n klomp leë beloftes. Die Bafana kon nie ’n enkele wedstryd in die Afrikanasiesbeker-toernooi wen nie, maar Shakes sê hulle is op koers vir 2018 en hy gee homself sommer 75% vir sy spankeuses en afrigting. So ’n bek moet mos seep kry,” val Sporie Bezuidenhout met die deur in die huis.
“Kalm bly, Sporie. Julle wou mos nie die afgelope paar weke na my luister nie, maar ek is reg en oorgehaal vir die stortvloed van sport wat kom. Net soos jy het ek reeds my uitskopstoel reg, want die Bulle het gewys hulle is oorgehaal vir die Stormers aanstaande week in die Superrugby-reeks, terwyl die Blitsbokke in Wellington, Nieu-Seeland weer in die IRR se sewesreeks speel. Die Sesnasies-reeks begin reeds more en Maandag neem die 2015-Varsitybeker-reeks ’n aanvang. Lekker,” kraai Botterbul Bester dit uit.
“Julle kan dalk opgewonde raak, maar ek verwag ’n la-a-ang rugbyseisoen met die Toyota Cheetahs wat met twee nederlae afgeskop het en Naka Drotské reken hy het ’n gebrek aan diepte onder sy vaste voorspelers. Ek kon dit vir hom al verlede jaar gesê het toe hy vir Adriaan Strauss en Trevor Nyakane saam met Lappies Labuschagné na die Bulle toe laat gaan het. Het julle gesien hoe skrum en speel Nyakane teen Saracens? Verlede jaar het die Cheetahs die Bok-stut meesal op die bank laat sit. Ek verstaan dit steeds nie,” kla Oom Sjert.
“Oom Sjert, jy moet maar van Maandag af die wedstryde van die Shimlas en Ixias gaan bywoon. Hulle speel daar by julle teen Tuks en UJ. Dit kan uithalerspel oplewer. Ons behoort ook ’n goeie voorskou van die Noordelike Halfrond se rugbykrag met die oog op die Wêreldbeker-toernooi te kry met die drie Sesnasie-wedstryde,” probeer Stywelip Carrington troos.
“Manne, dit help nie ons skram weg nie. Ons was verkeerd. Die wêreld se twee top-tennisspelers, Novak Djokovic en Serena Williams, gaan nie sommer abdikeer nie. Daar is baie jong talent, maar hulle sal nog ’n rukkie moet wag. Dit geld natuurlik nie vir gholf nie. Twee jong spelers, Rory McIlroy, wat pas die Dubai Desert Classic met ’n rekordtotaal gewen het en die 17-jarige Nieu-Seelander, Lydia Ko, gee die pas aan. Ons het darem drie mans en een vrou, Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen, Branden Grace en Lee-Anne Pace onder die top-50 ter wêreld,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
Skielik praat almal gelyk oor krieket, atletiek, rugby en sokker en ons knip ons vergadering kort.

Groetnis