Goeiedag
“Dad’s Army!” Hoe klink dit vir julle? Is dit nie ’n baie gepaste naam vir die Bulle nie – blou, pienk of watter kleur Bul ook al nie?”
So begin Stywelip Carrington ons weeklikse indaba op ’n vals noot. Vals noot of nie, die ander manne stem en skaterlag saam,
behalwe natuurlik Botterbul Bester. “Ek en Botterbul het die Davisbekertennisstryd daar naby oorlede genl. Jannie Smuts se huis in Irene tussen die Proteas en Monaco gaan bywoon. Rik de Voest het wel die eerste enkelspelwedstryd teen Monaco verloor, maar gelukkig het die ander Suid-Afrikaners almal gewen en kon De Voest Sondag die kragmeting 3-1 beklink in sy tweede enkelspelwedstryd. Dit is toe dat ek dat ek die Bulle Dad’s Army noem en sedertdien praat hy nie met my nie,” verduidelik Stywelip. “In die kol. Die Bulle span dan nou uitgetredes soos Victor Matfi eld en selfs ook Pierre Spies in en hulle truie is gekamoefl eerde weermagtruie,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor. “Nee, ek dink hy is net suur omdat die Stormers die Bulle met Matfi eld en Spies in hul geledere in hul opwarmingwedstryd in Polekwane geklop het,” sê Bontie Bonthuys vinnig. “Spot maar. Onthou net die seisoen is lank en wie laaste lag, lag die lekkerste,” maan Botterbul. “Wag, manne. Kom ons wag maar vir die Superrugby-reeks, want kyk wat het in die Sesnasie-reeks gebeur. Almal het gedink die Franse is laventelhane, maar toe klop hulle die Engelse Rose met die intrapslag,” paai Oom Sjert. “Het julle gesien wat ons swemmers in Perth, Australië gedoen het? Chad le Clos en Myles Brown-hulle , maar dit is Karin Prinsloo wat met ’n goue en nog vier ander medaljes spog. En sy is ook sag op die oog,” laat Sporie weer van hom hoor. “Ek het nostalgies geraak toe ek na die gholf daar in die woestyn in Doebai gekyk het. Ernie Els het die toernooi driekeer gewen, maar hierdie keer het ons Suid- Afrikaners uitgesak. Darren Fichardt het die beste gevaar met sy 11 minder as baansyfer, vyf houe meer as die wenner, Stephen Gallacher van Skotland,” sê Bontie uit die Kaap. “Manne, ek dink ons moet gaan navors oor sport in die sneeu en ys. Die Winter Olimpiese Spele begin en ons kennis van ski, skaats en sulke dinge is eina,” verander Sporie die onderwerp. Hiervoor is niemand te vinde nie. Die een wil tennis, die ander hokkie en selfs Formule Een gesels, maar aan sneeu en ys byt hulle nie.