Goeiedag
“Vat vyf, Hennie Otto! Stem julle saam? Dit was omtrent tyd dat ’n Suid-Afrikaner weer ’n gholftitel wen,” begin Stywelip Carrington ons indaba.
“Ek stem saam, maar dink jy nie ’n ‘high five’ sou meer gepas gewees het nie? Reken julle kom nou net daar van Engeland af en dit is mos die jongste mode. Dit is Otto se derde Europese titel en die tweede keer dat hy die Italiaanse Ope wen, en dit met ’n allemintige 20 houe minder as syfer. Dit wil gedoen wees,” borduur Botterbul Bester, wat gewoonlik nooit oor gholf praat nie, voort.
“Julle kan my nou met ’n veertjie omtik. Botterbul praat gholf. Magtig man, die verloordery van die Blou Bulle in die Curriebeker-reeks het jou werklik ’n groot knou gegee,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
“Ek is ook verbaas oor Botterbul, maar ons kan later Curriebeker praat. Onthou, die Wallabies wag Saterdag op die Bokke in Perth en na die Groen en Goud se kommerwekkende vertonings teen die Poemas is ek bekommerd. Diep bekommerd, want daarna lê die gedugte All Blacks nog voor,” gooi Oom Sjert ’n klip in die bos.
“Daar word nou gepraat van ’n nuwe voorry om die drie Haaie, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis en Beast Mtawarira, ’n ruskans te gee. Ook om Morné Steyn as losskakel in te span; Victor Matfield weer op slot in te span en Marcel Coetzee op flank. Dit alles kan moontlik help, maar gaan dit genoeg wees?” wil Bontie Bonthuys weet.
“Dit is nie net verandering aan die span wat nodig is nie. ’n Hele nuwe kopskuif is nodig. Daar moet meer aanvallend gespeel word. Gapings en ruimte moet vir die agterste driehoek, Bryan Habana, Cornal Hendricks en Willie du Plessis, geskep word. Die Bokke moet nie net op brute krag, dryfmaalbewegings en skoppe staatmaak nie. Jean de Villiers en sy span moet slimmer en meer ondernemend begin speel,” is Stywelip se mening.
“Daar sal ’n verandering by die Bok-afrigtingspan ook moet plaasvind. Kan ’n Bok-agterlyn nog met vertroue hanteer en die bal seepglad by hul snellers kry? Ek twyfel, want verdediging en krag is nou belangriker as hantering, systappe en planne om teenstanders agter uit te oorlê,” lug Sporie sy mening.
“Gelukkig was die afgelope naweek se Curriebeker-wedstryde opwindend en gee dit ’n mens hoop vir die toekoms. Ek kan net nie verstaan dat afrigters soos Frans Ludeke van die Blou Bulle en Rory Duncan van die Vrystaat-Cheethas so kon mistas met ’n losskakel nie. As hy volhard het met Joshua Stander op losskakel het die Bloues nog verder teen die Streeptruie verloor. Die Vrystaat sou gesukkel het om die knoop deur te hak as Pieter-Steyn de Wet nie teen Griekwas as losskakel by Willie du Plessis kom oorneem het nie,” sê Oom Sjert.
Nou wil almal gelyk ’n eiertjie lê, want Curriebeker-rugby is mos hartsake!
Groetnis