Goeiedag
Mensig, ek kan dit nie glo nie. Vir die eerste keer in jare begin ons indaba in chaos. En rugby is nie twispunt nie. Nee, dit is ’n onskuldige vraag van Stywelip Carrington wat daartoe lei.
“Wie gaan vanjaar die Wimbledonse enkelspeltitels verower?” Dit was genoeg om totale wanorde te verseker, want elke man het sy eie gunstelinge – selfs Sporie Bezuidenhout – wat nog nooit ’n raket vasgehou het nie. Almal is kenners.
“Novak Djokovic en Maria Sharapova gaan met die gesogte titels op die groen grasbaan wegstap,” laat Bontie Bothuys onmiddellik met gesag van hom hoor. Want reken, dié Kapenaar het mos op sy dag ’n paar tennistitels ingepalm.
Sy twyfelagtige tennisroem skrik nie die ander ouens af nie. “Ek dink dit is Roger Federer se laaste kans om in sy reeds roemryke loopbaan een van die grotes te wen. Hy gaan deurdruk, terwyl die groot verrassing in die vroue-enkelspel gaan wees. Sabine Lisicki gaan almal van die baan af speel,” lug Botterbul Bester sy mening.
Stywelip bieg dat Alize Cornet se sege oor Serena Williams al sy idees deurmekaar gekrap het. “Ek dink daardie jong Kanadees, Eugenie Bouchard, gaan verras, terwyl die kleibaan-koning, Rafael Nadal, die mans gaan ore aansit.”
“Kêrels, kalm bly. Daar is nog te veel spelers wat bo kan uitkom. Ek is trots op onse Kevin Anderson al het hy teen Andy Murray vasgeval. Dit is die beste wat ’n Suid-Afrikaner in dekades gevaar het. Ek dink Murray gaan moeilik gestuit word. Om die vroue-kampioen te kies, is bykans onmoontlik. Moenie vir Angelique Kerber of Li Na vergeet nie,” probeer Oom Sjert kalmte bring.
Dit gee Botterbul die gaping waarna hy gesoek het. “Wat gaan met julle aan? Die Bokke het pas die Skotte 55-6 afgeransel en Saterdag vind twee van die groot Suid-Afrikaanse Superrugby-derbies – die Stormers teen die Bulle op Nuweland en die Cheetahs teen die Haaie in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein – plaas. Hoe kan ons tennis praat?”
Dit ontketen ’n nuwe storm. “Ek was in die Mandelabaai en ingenome met jong spelers soos Lood de Jager, Handré Pollard, Jan Serfontein, Lwazi Mvuvu en selfs plaasvervangers soos Oupa Mohoje en Marnitz Boshoff. Hulle is gewis sterre van die toekoms, maar manne, wie kies die Speler van die Wedstryd? Daarmee wil ek nie sê JP Pietersen het nie goed op senter gespeel nie, maar De Jager en Mvuvu en ’n paar van die ander was beter as hy,” sê Sporie.
“Manne, die Skotte was geen werklike toets vir die Bokke nie. Daarom is Saterdag se twee wedstryde Bok-proewe vir Heyneke Meyer voor die Kampioenskap-reeks teen Nieu-Seeland, Australië en Argnetinië begin. Ek dink die twee tuisspanne gaan Saterdag koning kraai,” laat Oom Sjert weer van hom hoor.
Dit was die verkeerde ding om te sê, want toe stry die manne só dat ek die Skype-verbinding afskakel.
Groetnis