Koffiewinkel-droom word waar

0
535
Driekie Thomas en Michelle Peterson by die vooraf-bekendstelling van Bloomingdale Lite Restaurant op 20 November. FOTO: Justine Fortuin.

Die ideaal van ‘n Bloemfonteinse koffieliefhebber, Michelle Peterson, is op die punt om te realiseer nadat Peterson ‘n aanbod aanvaar het om die Bloomingdale Lite restaurant in Bainsvlei in ‘n gedeelte van ‘n pakhuis oop te maak.

Peterson vertel aan Bloemfontein Courant dat die koffiewinkel vir haar en haar gesin baie beteken. “As gesin is ons al deur so baie. Ons wil hierdie geleentheid gebruik om nie net ‘n restaurant oop te maak nie, maar dit ook vir ons gesin ‘n toevlugsoord te maak.” Sy sê die pandemie het ‘n houvas op menase. Sy het besluit dat dit nou vir haar die beste tyd is om te blom, vandaar dan ook die naam Bloomingdale Lite.

Driekie Thomas, die eienaar van House of Interiors, het ‘n gedeelte van haar pakhuis in Bainsvlei aan Michelle beskikbaar gestel vir die koffiewinkel en is baie opgewonde oor die toekoms van die besigheid. “Michelle het my een aand oor iets heeltemal anders gebel. Hoe alles toe verloop het, is alles deur die genade van God. Aan die einde van die gesprek het ek vir haar die aanbod gemaak om haar onderneming hier op my perseel oop te maak,” vertel Thomas. Sy sê dat sy die afgelope twee jaar met die idee om ‘n koffiewinkel van haar eie oop te maak, gestoei het en toe Michelle vertel van haar begeerte om ‘n koffiewinkel vir haar en haar gesin te open, sy dadelik geweet het hul paaie het vir ‘n rede gekruis.

“Die omgewing is baie rustig en pragtig. Ek wil die gemeenskap aanmoedig om Michelle te ondersteun. Sy het ‘n pragtige visie en ek weet dit gaan ‘n groot sukses wees.”

Bloomingdale Lite open sy deure amptelik op 1 Desember en is geleë op Abrahamskraalweg 38, Bainsvlei.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za