Knights uitblinkers vereer

0
527
Pite van Biljon FOTO: MORGAN PIEK

Die VKB Knights het Woensdagaand hul jaarlikse toekenningsgeleentheid aangebied, maar wat dit vanjaar anders gemaak het, is dat dit weens die huidige Covid-19-situasie aanlyn gedoen is.

Gewoonlik is dit ‘n gesellige geleentheid om die spelers en die span te vereer vir hul prestasies van die vorige seisoen, en is dit ook die amptelike begin van die nuwe veldtog.

Die Knights het wel tydens die 2019/20-seisoen geen silwerware ingesamel nie, maar baie van die spelers het hul stem dikgemaak op die veld en die span het ook deurgedring tot die halfeindstryd van die Momentum Eendagbeker. Die Knights was goed op dreef om die toenooi te wen, maar die Covid-19-pandemie het ander planne gehad en krieket is wêreldwyd gestaak weens die virus.

Die kolwer, Raynard van Tonder, is aangewys as die plaaslike vierdagreeks se Speler van die Jaar ná nog ‘n uitstekende seisoen, wat daartoe gelei het dat hy op die Proteas se radar begin verskyn het.

Jacques Snyman, wat ‘n aanvangskolwer is en ook as ‘n draaibalbouler ingespan word, is aangewys as die Momentum-Eendag Speler van die Jaar. Die vertoning met die wilgerlat, veral in die latere dele van die beperkte boulbeurttoernooi, het verseker dat die Knights tot die halfeindronde deurgedring het. Die speler het ook in ‘n oefenwedstryd vir ‘n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan, in Paarl, teen Engeland te staan gekom. Sy harde werk is beloon met sy eerste voltydse kontrak by die Knights.

Die oud-SA o.19-paaltiewagter, Wandile Makwetu, het sonder twyfel sy stempel in eersterangste krieket afgedruk en is aangewys as die speler wat die meeste gevorder het. Tydens dié seisoen is hy ook ingespan as die kaptein van die Knights in die afwesigheid wat Pite van Biljon, wat op sy beurt by die Proteas betrokke was. Vroeër vanjaar is Makwetu ook deur Krieket Suid-Afrika vereer as die speler wat die meeste gevorder het.

Shaun von Berg is slegs een seisoen by die Knights, maar word immers as die “ou staatmaker” beskou. Sy jare van ondervinding was uiters waardevol vir die Knights en die draaibalbouler is aangewys as die Spelers se Speler van die Jaar. Die Knights se Shane Warne, soos sy spanmaats hom beskou, het in alle formate vir die span uitgeblink en sal in die volgende veldtog weer eens die “go-to guy” wees.

Die veelsydige Patrick Kruger het die Ondersteunerskeuse-eerbewys ontvang.
Die groot wenner was egter die kaptein, Pite van Biljon, wat tydens die afgelope seisoen sy buiging vir die Proteas gemaak het in die T20- Internasionale Reeks teen Australië. Van Biljon wat met beseering geworstel het, is vereer met die Mees Waardevolle Speler van die Jaar eerbewys.
Biljon het aan Bloemfontein Courant gesê dat vanjaar heelwat anders is weens die Coronavirus, maar hulle is slaggereed vir die nuwe veldtog.

“Die manne is almal besig en hard aan die werk. Gewoontlike trek ons saam vir die toekenningsgeleentheid en die is altyd ‘n goeie spanbousessie. Ons werk al ‘n geruime tyd in kleiner groepies, en in groep-veldwerksessies. Die manne lyk goed en fiks, so ons wag nou net vir die nuwe seisoen om te begin.”

Soos dinge nou staan, sal die 2020/21- plaaslike krieketseisoen op 1 November van stapel gestuur word, maar die datum is nog nie heeltemal bevestig nie aangesien die situasie in die land kan verander. – MORGAN PIEK