Die ITEC Knights se Krieket SA vierdagreeksveldtog hervat Donderdag met die Divisie 2 pasaangeërs wat in Witrivier teen die Mpumalanga Rhinos in aksie sal wees.
Die Knights is die span om te klop in die reeks ná agtereenvolgende seges teen die Limpopo Impalas in Bloemfontein en die Northern Cape Heat in Kimberley.
Die span is goed uitgerus aangesien hulle op 12 November laas in aksie was, maar om skerp te bly en om hul momentum te behou het hulle verlede week teen mekaar in ’n oefenwedstryd geslyp. Die kragmeting in die Laeveld is vir die Bloemfonteiners ’n belangrike een, aangesien hulle vir aanstaande seisoen na die eerste afdeling bevorder wil word.
Hulle is op die stadium nog goed op koers, maar dit is belangrik dat hulle hul voet op die petrolpedaal hou. Die afrigter, JP Triegaardt, het aan Bloemfontein Courant gesê dit gaan moeilik wees om ’n derde agtereenvolgende sege te beklink, maar hy glo dat hulle die taak kan verrig. “Hierdie week se wedstryd is deurslaggewend, veral omdat dit weg van die huis is,” het Triegaardt gesê.
“Dit is nie maklik om van die huis af te speel nie, veral as ons ook probeer om ’n oorwinning te behaal, maar ons is fisies en geestelik reg vir die uitdaging.
“Ná die wedstryd teen die Northern Cape Heat het ons ’n opwarmwedstryd teen mekaar gespeel, net om die momentum en die vloei aan die gang te hou. Ek dink dit was belangrik vir die ouens om hul momentum te behou.”
Die Knights word versterk met die terugkeer van die kolwer, Jacques Snyman, en veelsydige speler, Clayton Bosch, wat beseer was.
Morgan Piek