Knights se fokus terug op vierdagreeks

0
187
VKB Knights FOTO: KNIGHTS

Die VKB Knights sal met niks minder as opeenvolgende seges tevrede wees nie wanneer Krieket SA se vierdagreeks later vandeesweek hervat.

Die teleurstelling van die Knights se T20-veldtog is iets van die verlede en die span se visier is nou op rooibalkrieket.

Voordat die toernooi ‘n breuk geneem het vir die beperkteboulbeurt-kompetisies was die Knigts bo-aan die punteleer in Groep A van die reeks.

Die Knights se volgende twee wedstryde in die reeks is egter wegwedstryde teen albei die Titans in Centurion en die Cape Cobras in Nuweland.

Positiewe uitslae in dié twee wedstryde sal verseker dat die Knights in die eindstryd van die reeks sal meeding.

Die Knights se breier, Allan Donald, het geen geheim daarvan gemaak dat hy teleurgesteld was met die span se vertoning in die T20-reeks nie, maar hy sê hulle wil bou aan hul goeie vorm in die meerdagreeks.

“Dit is die formaat waarin ons so goed begin het en ons hele seisoen gebou het.

“Met die teleurstelling dat ons net een wedstryd in die Momentum-eendagbeker gespeel het en die ramp van die T20-kompetisie, kan ons nou sê ons is reg vir die twee oorblywende groepwedstryde en ons sal inspring. Ons is tans nog bo-aan ons groep van drie spanne en ons moet nou die geleentheid benut.”

Die Knights sal van Sondagoggend af op SuperSport-park in Centurion teen die Titans te staan kom. – MORGAN PIEK