Maricelle Botha
Die eerste in ’n reeks kinderboeke, wat oor ernstiger kwessies handel, het pas die lig gesien. Dié reeks, wat onderwerpe soos aanneming, alledaagse uitdagings, ouerliefde, menswaardigheid en keuses bespreek, is die geesteskind van Beatrice Pringle.
Pringle, wat op ’n dag aan haar eie seun sy aanneming moes verduidelik, het plaaslike skrywer Maretha Maartens met haar dilemma genader en dit is hoe die reeks ontstaan het. Hulle het die eerste boek, getiteld Die prins se naam is Knietjies, geskryf en besluit dat dit ’n volwaardige plaaslike produk sou wees. Daarom het die outeurs toe ’n Bloemfonteinse grafiese ontwerper, drukkery en uitgewer gebruik in die skep van die boek.
Dit is juis met hierdie uitgangspunt wat Pringle en Maartens besluit het om ook jong kunstenaars in verband met illustrasies vir die boek by die projek te betrek. ’n Kompetisie is geloods en plaaslike kunsstudente is die kans gegun om hul slag met die verfkwas te wys. Die 16-jarige Tiffany Onderstall van Hoërskool Sentraal het met die louere in die Eie Talent-kompetisie weggestap. Haar kunswerke kan reeds in die Die prins se naam is Knietjies gesien word. En, as deel van die prys wat sy gewen het, sal sy ook die geleentheid hê om die volgende twee boeke in die reeks te illustreer.
“Dit is ’n verskriklike groot voorreg om iemand soos Maretha Maartens se boek te kan illustreer. Ek het nog nooit regtig in my lewe enige iets soos dit reg gekry nie,” vertel sy. Onderstall is al 11 jaar lank ’n kunsstudent van die Nellie Brisley-kunsskool. Sy vertel dat sy nooit daaraan gedink het om boeke te illustreer nie, maar toe sy van die kompetisie hoor het sy gedink kameelperde is sulke pragtige diere en dat dit wonderlik sal wees om kinderlike kameelperde te teken.
Maartens het tydens die bekendstelling van die boek klem op die plaaslike produksie van boeke gelê en gesê dat hulle bewys het dat jy ’n goeie produk, wat koste effektief is, binne ’n kort tydperk kan lewer en dat ons nie nodig het om boeke in die Ooste te laat druk nie. Deur boeke plaaslik te laat druk skakel jy baie rompslomp uit. Die boek is teen R49.95 by Pringle by bpringle@telkomsa.net beskikbaar. Ook by Nismark, die aanlynwinkel op die webwerf, www.seker.co.za. waar dit by wyse van ’n gewone elektroniese banktransaksie (EFT) of by wyse van ’n PAYFAST-transaksie aangekoop kan word, met versending per geregistreerde pakketpos binne vier dae. Verpakking, versendings- en afleweringskoste beloop R22.