Kliënte is soos famillie

0
1538
Anchen Lintvelt, OFM Verkoopsbestuurder.

Enige onderneming wat sy produkte of dienste op OFM adverteer word deel van die OFM-familie.

Dit aldus Anchen Lintvelt, verkoopbestuurder van OFM. Die passie is hoorbaar in haar stem as sy verduidelik hoe toegewyd OFM daartoe is om diens aan sy kliënte te lewer. “Ons groei en leer saam met jou besigheid. Jou besigheid word ons besigheid. Ons beplan saam, dink saam, deel saam.”

Lintvelt praat met groot lof van OFM se jarelange adverteerders. Sy vertel van die radiostasie se mees onvergeetlike oomblikke. “Daar is so baie suksesstories! Wie sal dan nou ‘ding dong, ping pong, kom na King Kong’ kan vergeet? Of vir Miems van Ellaton Mining Supplies & Signs en ‘Fanus’ van D&J Vleis.”

“Dan praat ek nie eens van die unieke klingels wat OFM vir talle adverteerders vervaardig het nie, wat hulle tot vandag toe bekende en betroubare handelsmerke gemaak het. Dink maar aan ‘Captain Dorego’s. Fresh food fast’ and ‘Hyper Pool Equipment…’ Ek is seker almal ken ook nog Megapaints se nommer, want ons sing hom mos as ‘dubbel vier sewe vyftig vyftig. . . ‘ Ek seker julle sing saam soos julle lees!”

Volgens Lintvelt is daar groot waardering by OFM vir al die adverteerders wat deel geword het van die stasie se programme. “Ons programborge, wat insluit Accident Angels, Kloppers, VKB, Arrie Nel Apteke, John Deere, DIY Superstore, CTM, Standard Bank en die nuutste toevoeging, Riviera on Vaal, is ondernemings wat ons programme moontlik maak.”

Op ‘n persoonlike vlak spreek Lintvelt groot waardering uit vir wat haar assosiasie met OFM vir haar beteken het. Sy sê in die 15 jaar wat sy by OFM werk, sy nie net die radio- en mediabedryf beter leer ken het nie, maar ook ontsettend baie geleer het oor besigheid.

“Op ‘n daaglikse grondslag het ons die voorreg om met besighede uit alle soorte bedrywe te werk. Die planne wat ons saam met hierdie besighede maak om hul bemarking in plek te kry, leer ons nie net van alle soorte bedrywe nie, maar ook van al die uitdagings waarmee besigheidseienaars en korporatiewe bestuurders daagliks mee te make het.

“‘n Radio-advertensie het die vermoë om ‘n nuwe perspektief aan ‘n besigheid te gee. Dit gee hom ‘n identiteit, karakter, en plaas die handelsmerk aan die voorpunt van die verbruiker se geheue. Radio-advertensies is kragtig. Ek sien daagliks resultate.”

Lintvelt sê dis nie net die adverteerder wat vertroue in OFM-advertensies het nie. Die luisteraars vertrou die inligting wat hulle in ‘n OFM-advertensie hoor.

“Mense voel veilig om sake te doen met ‘n besigheid wat op OFM adverteer. Hulle vertrou OFM en dus ook ons adverteerders. Maar hierdie vertroue kom nie sommer oornag nie. By OFM bou ons al 35 jaar aan ons eie handelsmerk. Ons adverteer onsself. Ons doen navorsing. Ons stel kundige mense aan wat hierdie werk kan doen. Ons belê in ons personeel. Ons doen jaarliks data-opnames van ons kliënte asook algemene besighede in ons uitsaaigebied, sodat ons beter verstaan watter kwessies besighede in ons uitsaaigebied mee worstel.”

Volgens Lintvelt kan OFM se sukses aan verskeie faktore toegeskryf word, maar veral aan die professionele diens wat die radiostasie bied. “Ons bied ‘n volledige produksieateljee wat seker maak alle advertensies is professioneel en van topgehalte. Ons word gemotiveer deur ons kliënte wat, soos ons, in ons handelsmerk glo.

“Ons is net so ingestel op die sukses van ‘n veldtog soos ons adverteerders. Ons het ongelooflike goeie verhoudinge met ons kliënte. Hulle is soos familie. Ons reis die hele Sentraal Suid-Afrika deur. En met almal het ons net een doel voor oë: om hul besighede te laat groei deur ‘n kreatiewe, effektiewe radiobemarkingsveldtog.”

Sy het ook groot lof vir die OFM se ervare verkoopspan. “Ek is bevoorreg om saam met ‘n span van elf plaaslike en direkte verkoopskonsultante te kan werk. Elke een van hulle is uniek en professioneel op hul eie gebied. Op nasionale gebied word die OFM-handelsmerk deur interne agentskap, United Stations verteenwoordig. Tussen hierdie twee verkoopspanne, is daar baie passie en liefde vir wat ons doen. Almal werk saam aan die sukses van sowel ons adverteerders as dié van OFM.”

Oor die stand van die radiowese is Lintvelt ewe opgewonde. “Radiobemarking het so baie verander in die laaste tyd. Verbruikers wil meer ingelig wees en wil deel voel van ons adverteerders se aanbiedinge. Interaktiewe bemarking trek steeds ongelooflike aandag. Kompetisies en aktiwiteite soos buiteuitsendings is steeds immergewild, terwyl herhalende beeldboubemarking die verbruiker op ‘n daaglikse manier bewus maak van ‘n handelsmerk en sodoende vertroue bou en bekendheid verwerf in die onderbewussyn.

“Radio is die enigste platform wat altyd regstreeks is. Dink maar daaraan. Watter ander medium is 24 uur ‘n dag regstreeks en direk? Dus is radiobemarking altyd relevant en geniet dit onmiddellike reaksie vanaf verbruikers.”

Lintvelt sluit af met die volgende gedagte: “Een ding is seker, hoe meer jou besigheid gehoor word, hoe meer bekend sal jou besigheid word. Wat ‘n wenresep om deel van te wees! OFM, ons klink ‘n glasie op nóg 35 jaar!”