Klaviervirtuoos kuier in Rosestad

0
579

Bloemfonteinse musiekliefhebbers kry môre die geleentheid om een van die wêreld se voorste internasionale pianiste op eie bodem te sien optree. Die Russiese pianis Andrey Pisarev lewer Vrydag om 19:30 ‘n klavieruitvoering in die Odeion.
Pisarev is veral bekend vir sy vertolking van die romantiese repertorium en die konsertprogram sluit onder meer Mozart se Fantasie in D mineur, K.397, Beethoven se Sonate nr. 32 in C mineur, op. 111, Schumann se Novelette nr. 8 in F-kruis mineur, op. 21, Chopin se Nokturne in E mineur, op. 72 nr. 1 en 4 Scherzos in.
Pisarev het in 1991 die topprys by die Internasionale Mozart-kompetisie in Salzburg gewen. Dit was die eerste keer sedert 1956 dat die topprys in dié kompetisie toegeken is. Afgesien van hierdie kompetisie, het hy ook eerste pryse in die Rachmaninoff-klavierkompetisie in Moskou (1983) en die Unisa Transnet- Internasionale Klavierkompetisie (1992) gewen.
Op sewejarige ouderdom het Pisarev begin met sy musiekopleiding. In 1978 het hy na Moskou verhuis om by die musiekskool in Moskou en daarna die Tsjaikowski-konservatorium (Moskou) te studeer waar hy in 1987 gegradueer het en in 1989 sy M.Mus.-graad behaal het.
Hy het al in van die bekendste konsertsale en saam met van die wêreld se beste simfonie-orkeste opgetree. Onder hulle tel die Japanse Filharmoniese Simfonieorkes, RAI-simfonie-orkes, Kaapstadse Simfonieorkes, Russiese Nasionale Orkes en die St. Petersburg Filharmoniese Orkes. Sy solo- en orkesuitvoerings word hoog aangeskryf deur resensente in die VSA, Suid- en Sentraal-Amerika, Europa, Japan, China, Suid-Korea, Taiwan en Rusland.
Pisarev is tans ook klavierprofessor by die Moskou-konservatorium en het al meesterklasse in onder meer Japan, die VSA en Joego-Slawië, Frankryk en Brasilië aangebied. Die OSM bied, in samewerking met ClassicSA, vandag (14:00 – 18:00) meesterklasse met Pisarev aan. Vir navrae of indien jy belangstel om deel te neem, kontak Ninette Pretorius by 051-401-2504 of pretoriusn@ufs.ac.za.
Kaartjies vir môre se konsert kos R130 (volwassenes), R90 (pensioenarisse), R70 (UV-personeel), R50 (studente en leerlinge) en R50 (groepbesprekings van 10+) by Computicket.