Klarinetdosent met gesogte internasionale kunstenaarskap vereer

0
541

Danré Strydom, dosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) van die Universiteit van die Vrystaat (UV), is onlangs by Buffet-Crampon se eksklusiewe lys van verteenwoordigende kunstenaars gevoeg. Buffet-Crampon is een van die mees ikoniese houtblaas-handelsname en leier op die gebied van eersteklas-klarinette. Die kunstenaarskap het 'n hoogs mededingende keuringsproses behels om die eerste Suid-Afrikaanse Buffet-Crampon-handelsmerkambassadeur te word.
Buffet-Crampon, wat in Frankryk en Duitsland gesetel is, word internasionaal as die 'Steinway' van klarinetvervaardigers erken. Die maatskappy volg 'n nougesette keuringsproses en die titel van Buffet-kunstenaar word nie ligtelik toegeken nie. Strydom sal die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wees om die handelsmerk te verteenwoordig.
Musikante het vir bykans 200 jaar deurlopende artistieke uitnemendheid en 'n toewyding tot musiek van Buffet-Crampon en sy instrumente ontvang. In 'n dialoog met die bekendste kunstenaars is dit die ambisie van die handelsmerk om tradisie met moderniteit te kombineer, kundigheid met skepping en geskiedenis met vernuwing, ten einde uitstekende houtblaasinstrumente te bied wat uniek in karakter is en deur onmiskenbare gehalte ondersteun word.
Strydom het haar musiekvormings-opleiding by die Windhoek-konservatorium ontvang voordat sy haar voorgraadse kwalifikasie aan die UV voltooi het. Haar uitvoering het daarna vir haar verskeie gesogte beurse vir oorsese studie gewen. Sy het haar nagraadse studie aan die Indiana-universiteit se Jacobs School of Music begin en daarna haar studies in België voortgesit, wat uitgeloop het op twee afsonderlike meestersgrade in klarinet en in basklarinetuitvoering aan die Koninklike Konservatorium van die Universiteit van Gent.
Afgesien daarvan dat sy tans as hoofklarinetspeler vir die Vrystaatse Simfonieorkes en die Namibiese Nasionale Simfonieorkes dien, was sy van 2009 tot 2013 'n ad hoc-lid van die gerespekteerde Brusselse Filharmoniese Orkes. Haar tyd by die Brusselse Filharmoniese Orkes het 'n Akademie-toekenning vir die klankbaan van die rolprent, The Artist, ingesluit, wat Strydom as een van haar trotsste oomblikke beskou.