Kla met witbrood onder arm

0
2065

Toe ek Marie van Pentagonpark se brief in Courant (7 November 2012) lees, was my eerste gedagte dat sy nie ernstig kan wees nie. Indien sy egter ernstig is kla sy met ’n witbrood onder die arm.

Wat het sy:

1) ’n huis in ’n gesogte woonbuurt – Pentagonpark
2) Weelderige motors
3) Beide sy en haar man het goeie werk waar hulle groot salarisse verdien.

Nou kla sy dat hulle gesin die eerste keer vandat hulle kinders het, nie kan see toe gaan nie.
Marie, hoeveel tienerkinders in Bloemfontein het nog nie eers die voorreg gehad om een maal in hulle lewe by die see te wees nie? In hoeveel tienerkinders in Bloemfontein se huise werk net een ouer of is beide dalk werkloos. Hoeveel tienerkinders stap na hulle skole toe?

So kan ek aanhou, maar ek voel Marie moet haar Skepper om verskoning vra vir hierdie brief en dankbaar wees vir wat sy het. Sy moet oppas dat dit wat sy het nie van haar weggeneem word nie.

J.G. BOTHA