Kitaarspeler breek wêreldrekord ‘nie-amptelik’

0
163
Jaco Uys

Nadat Bloemfonteinse kitaarspeler, Jaco Uys, onlangs sy eie musiekskool, Jooba, geopen het, het hy op 16 Julie 2021 die wêreldrekord vir die langste kitaarles ‘nie-amptelik’ gebreek toe hy ‘n 26 uur lange kitaarles lewend op sy You Tube-kanaal aangebied het.

Uys het hierdie uitdaging aangepak nie net om Jooba wêreldwyd bekend te stel nie, maar ook om geld in te samel om sy nuutgestigte musiekskool in die stad op te bou. Hy verduidelik dat die naam “Jooba” verwys na die vreugde om musiek te leer.

Hy het 11 jaar gelede kitaarlesse begin gee en sê, “Ek wil volgende jaar ‘n ‘musiek-gap-jaar’ begin vir jongmense wat in ‘n musiekrigting wil gaan.”

Uys het om 9 uur op ‘n Vrydagoggend begin speel en aangehou tot 11 uur die volgende oggend (Saterdag) met ‘n breek van 10 minute hier en daar.

“Dit was n baie lekker ervaring en ek het dit geniet om te sien hoedat plaaslike mense my ondersteun. Ek het R4000 ingesamel vir die musiekskool. Die moeilikste gedeelte was in die vroeë oggendure.”

Volgens Jaco hoop hy om een van die grootste musiekskole ter wêreld in Bloemfontein te bou. “Ek wil die vreugde van musiekonderrig versprei. Kom, wees deel daarvan, en help my,” vra hy.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za