Jaco Uys is ‘n kitaarspeler van Bloemfontein wat regoor die stad kitaarles gee. Hy het onlangs die Jooba-kitaarprogram begin, waar hulle daarop fokus om kinders die geleentheid te gee om te leer en hulself te ontwikkel as mense.
Uys sê die kinders wat deel is van die program, woon in gebiede en woon skole by waar daar nie geleenthede is om meer van instrumente te leer nie. Bloemfontein Courant het vroeër berig dat Uys YouTube-uitdagings aanpak, om nie net Jooba wêreldwyd bekend te stel nie, maar ook om geld in te samel om sy nuutgestigte musiekskool in die stad op te bou. Hy verduidelik dat die naam “Jooba” verwys na die vreugde om musiek te leer.
“Ons is tans by Monyatsi Laerskool in Rocklands en daar is 32 studente wat weekliks by my klas het. Elke student het ook sy eie kitaar wat hy huis toe kan vat.” Uys het die projek begin om kinders te verander van verbruikers na skeppers.
“Want dit is die groot siekte van ons tyd. Kinders wat musiek leer, word skeppers van natuur en dit vloei oor na al die ander fasette van hulle lewens,” sê hy.
Mense kan betrokke raak deur die programme te borg of kitare aan individue te skenk, of self by te dra om kitare te koop.
Donasies word ingevorder by www.joobamusic.com/donate
Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za