Kinders al vroeër skool toe

0
1651

ALZANE NARRAIN

Dis is nou amptelik bekendgemaak dat ouers hulle kinders vroeër skool toe mag stuur.

Volgens die Vrystaatse departement van onderwys kan ‘n graad R-aansoeker vier jaar oud wees en dan 5 jaar oud word teen 30 Junie in die jaar van toelating. ‘n Leerling wat dan graad 1 moet begin moet dan sy of haar sesde verjaarsdag in die jaar van toelating vier.

Adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Jaco Deacon, sê ouers kon nog altyd hulle kinders op vyfjarige ouderdom registreer om skool toe te gaan, maar skole het altyd voorkeur gegee aan ses- en sewejariges omdat dit verpligtend is om hulle skoolloopbaan op daardie ouderdom te begin.

Bloemfonteinse sielkundige, dr. Elize Groenewald, sê kinders van daardie ouderdom is nie emosioneel gereed om hulle skoolloopbaan te begin nie.

“Sou ‘n kind later in die jaar ses word, is sy maatjie wat vroeër in die jaar verjaar dan amper ‘n hele jaar ouer as hierdie kindjie. Hierdie kinders begin dan te voel dat hulle ouer maatjies beter en slimmer as hulle is. Jonger kinders kan selfs geboelie word deur hulle ouer klasmaats,” sê Groenewald.

Skoolhoof van Bambi preprimêr, Anneléne Pretorius, sê dit gaan baie moeilik wees vir onderwysers om kinders wat nie emosioneel en sosiaal gereed is vir skool nie te onderrig.

“Daar is ‘n ongelooflike verskil tussen kinders wat gereed is vir skool en die wat nog nie is nie. Die denkprosesse van kinders van verskillende ouderdomme verskil en hulle gedrag ook. ‘n Kind van vyf jaar sal nie op dieselfde vlak kan leer lees en wiskunde doen as sy vriende wat ouer as hy is nie,” sê Pretorius.

Groenewald sê die jong kind ervaar valslik gedagtes van homself dat hy dom is, swak is, nie goed genoeg is nie, wat vir die res van sy lewe by hom gaan bly.

“Ek het ‘n pasiënt van 40 jaar oud wat twee doktorsgrade het wat steeds voel dat sy nie slim genoeg is nie omdat haar ouers haar vroeër skool toe gestuur het . Sy is toe in die ‘donkiegroep’ gesit omdat sy nie op dieselfde vlak as ouer kinders in haar klas kon lees nie. Ons moes geweldig hard en lank werk om haar selfvertroue terug te kry,” sê Groenewald.

Pretorius sê ook dat kinders in ‘n later stadium leerprobleme ontwikkel omdat hulle nie meer belangstel om te leer nie. Sy sê daar was al baie gevalle waar kinders net teruggetrokke raak omdat hulle verkeerdelik dink hulle is nie slim nie.

“Hierdie kinders reageer dan om aandag te kry. Hulle begin stout word en die klas onbeheerbaar te maak vir die juffrou,” verduidelik Groenewald.

Volgens Groenewald daar is baie tekens om in ag te neem om te sien of ‘n kind skoolgereed is. “Die kind het dan baie selfvertroue, wil weet hoe die wêreld werk en is nuuskierig om te leer. Ouers moet kyk hoe funksioneer kinders by maatjies. Kan hy vir homself opstaan en sê hy hou nie van iets nie? Kan hy vir jou sê wat hom pla en sy emosies uitdruk en sê hoe hy voel?”

Groenewald verduidelik dat ouers ook skoolgereedheidstoetse kan laat doen om seker te maak dat die kind gereed is vir skool. Daar is baie faktore waarna mense moet kyk, nie net emosionele faktore nie, maar ook intellektuele en vaardigheidsfaktore.

Nadat Bloemfontein verskeie pogings aangewend het om ons vrae te beantwoord oor waarom die toelatingsouderdom van skoolgaande leerlinge verander is, het die Departement van Onderwys in die Vrystaat nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.