Kies die regte webwerfadres

0
401

Servaas de Kock

’n URL van ’n webtuiste is die adres daarvan. Die URL van jou webtuiste kan jou webtuiste maak of breek en baie keer gebeur dit dat besighede die beste webtuistes het, maar die URL net eenvoudig té moeilik is en sodoende sukkel hulle om direkte verkeer te kry.
Indien jy ’n URL vir jou besigheid gaan kies, hou die volgende ingedagte:

Assosiasie. Die URL moet met jou besigheid verband hou. Indien ’n gebruiker nog nooit op jou webtuiste was nie en jou URL sien, moet die persoon ’n idee kry waaroor jou besigheid gaan sonder om eers op jou webtuiste uit te kom.

Wees uniek.
Een van die groot probleme op die web is verwarring wat verskillende handelsmerke veroorsaak. ’n Mens soek na een bepaalde handelsmerk en kom dan by ’n totale ander handelsmerk uit. Jou URL moet so gekies word, dat dit uniek is en nie ruimte vir verwarring laat nie.

Beskikbaarheid.
Voor jy ’n besigheidsnaam registreer, is dit goed om seker te maak of die bepaalde naam beskikbaar is op ’n .co.za domain of .com domain. Indien dit nie is nie, sal ek jou aanraai om eerder te kyk na ’n naam wat beskikbaar is. Die eerste prys is verseker om dieselfde besigheidnaam en URL te gebruik, want sodoende versterk dit net jou handelsmerk.
Maklik en duidelik. Jou URL moet maklik wees om te spel en duidelik om uit te spreek. So wanneer jou URL gehoor word, hetsy in ’n advertensie of van ’n persoon, moet die URL se samestelling van so ’n aard wees, dat dit maklik geskryf kan word sonder om ’n spelfout te begaan. Indien dit nie die geval is nie, kan baie direkte verkeer so verlore gaan.
Gebruik woorde. Gebruik eerder woorde as syfers. Syfers maak dit net meer kompleks en verwarrend.