Kiepie Jaftha, ‘n ware onderwyser

0
1136
Ds. Kiepie Jaftha, wat ná 5 jaar as adjunkprovinsiale bestuurder van die Fedsas in die Noord-Kaap aftree. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Ds. Kiepie Jaftha tree af as adjunkprovinsiale bestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) in die Noord-Kaap nadat hy vyf jaar hierdie pos beklee het. Hy wil nou meer tyd saam met sy vrou, Olympia, deurbring en die talentvolle Jaftha sien ook uit daarna om meer skryfwerk gedoen te kry.

Hy is nie net ‘n onderwyser nie, maar onder meer ook ‘n dominee en gemeenskapsleier wat vele ander rolle vervul. Volgens ‘n verklaring deur Fedsas wou Jaftha oorspronklik net dominee wees, maar hy was reeds onderwyser toe hy sy klasmaats in die Southfi eld Primary School op die Kaapse Vlakte by die NG Sendingkerk die belangrikheid van godsdienstige berou geleer het.

Jaftha het ‘n BA-graad sowel as ‘n graad in teologie aan die Teologiese Skool Hammanskraal verwerf. Baie jare later het hy ook ‘n honneursgraad in sakebestuur voltooi met die fokus op strategiese bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat. Hierdie kwalifi kasie het handig te pas gekom toe hy as bemarkingsbestuurder vir die Small Business Development Corporation en Business Partners in die Vrystaat en Noord-Kaap, en later ook in Gauteng en Noordwes, gewerk het.

Jaftha sê, “Toe ek nog op die laerskool was, het ek besef dat ek iets van waarde met my lewe wil doen, en die waarde lê hoofsaaklik in mense.” Die grootste deel van sy loopbaan het hy in die Gereformeerde kerk Heidedal in Bloemfontein deurgebring, waar hy eers as sendeling en later as dominee gewerk het.

Gedurende hierdie veertig jaar het sy invloed as gemeenskapsleier verder gestrek as Heidedal en was hy ook stigterslid van die Towers of Hope Leadership Foundation wat bemagtigingsmoontlikhede bied aan kwesbare lede van die gemeenskap, en ook van Act Now Heidedal, ‘n proaktiewe inisiatief teen dwelmmisbruik.

Hy was ook betrokke by die stigting van die Suid-Afrikaanse Hoëronderwysgemeenskapsverbintenisforum wat fokus op gemeenskapsdiens aan universiteite, asook die Internasionale Instituut vir Ontwikkeling en Etiek wat samewerking tussen lande in die noordelike en suidelike halfrond en tussen universiteite en die samelewing moontlik maak.

Dit was as gevolg van sy pos as senior direkteur van gemeenskapsdiens aan die Universiteit van die Vrystaat. Jaftha is in wese ‘n onderwyser in die samelewing. Sy rol as lid van die raad van verskillende gemeenskaps- en handelsorganisasies dien as bewys van sy kundigheid. Van ChildLine South Africa en Bloemfontein Child Care tot die direksie van die Nasionale Museum in Bloemfontein, asook die van OFM en Central Media Group, en selfs as stadsraadslid.

Luidens die verklaring is Jaftha baie veelsydig en het hy ervaring in verskillende bedrywe, maar die goue draad wat deur sy werk en sy lewe loop, is die diens aan die gemeenskap. Vir Fedsas is dit wat vir ons belangrik is,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas. Colditz sê Jaftha het sy menswees en sy unieke vermoë gebruik om met gemeenskappe te kommunikeer om sy werk by Fedsas te doen.

“Selfs in die verste uithoeke van die Noord-Kaap is hy met ope arms verwelkom en kon hy ‘n verskil maak.” Dit is nie net Fedsas wat voordeel getrek het uit Jaftha se talent as gemeenskapsleier nie. ‘n Lang lys toekennings vertel die verhaal van sy hart vir mense en sy lewe van waarde. Hy het vier boeke geskryf en is ‘n gereelde rubriekskrywer vir Volksblad.

Sy skryftalent, mensvaardighede en sy vermoë om eff ektief te kommunikeer stel hom in staat om gesaghebbende menings oor verskillende onderwerpe te hê, en as ‘onderwyser van die samelewing’ het hy nog baie te sê.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za