Dit kom nadat ‘n kleinerige vragmotor, Dinsdag omstreeks 23:00, vermoedelik weens sterk wind omgeslaan het. Die vragmotor het in die rigting van Bloemfontein gery. Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Ian Gaobepe, sê ‘n ander vragmotor, wat groot kunsmissakke vervoer het, het by die toneel gestop om verkeer te waarsku.
Hy sê twee mans in ‘n bakkie het agter dié vragmotor gestop, waarna ‘n derde vragmotor met swaar staalpype in die bakkie vasgejaag het. Die bakkie is ‘n ent gesleep en is onder die vragmotor met die kunsmis op, vasgepen. Gaobepe sê polisiebeamptes en nooddienswerkers het ure gespook om ‘n vrag van die vragmotor waaronder die bakkie beland het, af te laai.
Die insittendes in die bakkie se lyke kon eers gistermiddag uit die wrak verwyder word. Volgens Gaobepe het die opruimingswerk lank geneem omdat die vrag swaar staalpype eers met spesiale toerusting verwyder moes word. Motoriste moes gister van alternatiewe roetes gebruik maak.
Verkeer in die noordelike rigting na Johannesburg is via Parys en Koppies herlei, terwyl verkeer in ‘n suidelike rigting na Bloemfontein op die R36 herlei is. Volgens Gaobepe is die bestuurder van die vragmotor met die swaar staalpype op na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Gaobepe sê die name van die oorledenes is nog nie bekend nie.
Die gedeelte van die N1 is omstreeks 20:00 vir verkeer oopgestel. – Christal-Lize Muller