Kersfees word spesiaal gemaak vir kinders

0
1148
Traxdor en Guardian and Angel het behoeftige kinders bederf met spesiale Kersgeskenke. Van links is Anita von Wielligh (Traxdor), Helené Scott (Guardian and Angel), Pierre Reyneke en Tina Bartlett, albei van Traxdor. FOTO: HEIDRE MALGAS

Traxdor en Guardian and Angel het verlede week hande gevat en vir ‘n groep minderbevoorregte kinders Kersfees baie spesiaal gemaak. Guardian and Angel, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie is bekend vir sy liefdadigheidwerk in die gemeenskap en het ten doel om mense se lewens verbeter.

Traxdor het self presente vir 15 kinders uitgesoek volgens geslag en ouderdom. Dit is die eerste keer dat die maatskappy soiets doen en Anita von Wielligh van Traxdor het aan Bloemfontein Courant gesê dat die kinders deur Guardian and Angel gekies is en Traxdor graag iets wou bydra om hul Kersfees spesiaal te maak.

Helené Scott van Guardian and Angel vertel dat die groep kinders van ‘n plakkerskamp kom en nie altyd die geleentheid kry om Kersfees te vier nie. “Wat ons doen, is om kinders en families in beter omstandigheide te plaas. Baie van ons plakkerskampkindertjies is gespot weens hul omstandighede maar ons het darem nou daarin geslaag dat van hulle in beter plekke met lopende water en elektrisiteit woon.

Hulle vaar nou ook baie goed op skool.” Scott sê Guardian and Angel se huise is versprei oor die hele Bloemfontein. “Ons het huise in Ehrlichpark, Lourierpark, Kelly’s View, Bloemspruit asook kleuterskole in soveel ander plekke vir wie ons sorg.

Ons kry skenkings waaruit ons vir die mensies Kersboksies maak met nie-bederfbare kosse, meel, lekkernye vir die kinders en baie ander bederfkos wat die feesseisoen vir hulle lekker kan maak,” sê sy.

Guardian and Angel kan op Facebook gevind word vir enige donasies of verdere inligting oor die organisasie, of mense kan Scott skakel by 083-642-1849

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za