Kersfees kom vroeg vir Wilgehof-inwoners

0
968

Kersfees het vanjaar vroeg gekom vir die
jong inwoners van Wilgehof.
Talle kinders van die gemeenskap is
Vrydag behoorlik bederf toe hope
selfgemaakte klere en speelgoed wat deur
ouer persone van die Tabita-omgeegroep
geskep is, aan hulle op ’n Kerspartytjie
oorhandig is.
Die Tabita-omgeegroep bestaan uit
sowat 35 mense wat een keer per
week bymekaar kom en is deel van
die NG Kerk Wilgehof se Diens van
Barmhartigheid. Die groep bestaan al 11
jaar lank en daar word flink naaldwerk
gedoen om ’n bydrae tot die gemeenskap
te maak.
Annatjie Griffiths, voorsitter van die
Diens van Barmhartigheid vertel, dat die
groep elke jaar meer as 120 truitjies, 40
pare kouse en talle musse aan die kinders
van Choc-huis en Sunflower Hospice
skenk.
Tabita-omgeegroep is ook een van talle
organisasies wat deelgeneem het aan Age
in Action Vrystaat se jaarlikse Mooigoed
vir Kleingoed-projek. Courant het vroeër
berig oor dié kreatiewe kompetisie
waaraan ouer persone van regoor die
land deelneem en artikels skep in die
kategorieë sagtespeelgoed, komberse
en klere. Talle artikels is vanjaar weer
vir die projek ingeskryf en onlangs aan
behoeftige kinders uitgedeel.
Jeanne White van Age in Action moedig
persone ouer as 60 aan om nou reeds
te begin met die maak van artikels vir
Mooigoed vir Kleingoed se projek 
volgende jaar. Die projek is hierdie jaar
vir die 13de keer deur die winkelreus
Shoprite/Checkers geborg en die Vrystaat
beklee tans nasionaal die vyfde plek in
hierdie kompetisie.
Vir meer inligting oor die projek, skakel
die Age in Action-kantoor by 051-448-
1868. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za