Kersfees kom vroeg vir Bfn-jeugsentrums

0
331
Gabrielle Fourie

‘n Inwoner van Bloemfontein met ‘n hart vir haar medemens, Gabrielle Fourie, werk saam met ENGO in die Vrystaat en maatskaplike werker, Marinique du Plessis, om ‘n Kersbyeenkoms vir vier verskillende jeugsentrums in die stad aan te bied.

Ek het ENGO vroeër hierdie maand gekontak om hul behoeftes by die jeugsentrums te bespreek en aangebied om ‘n Kersbyeenkoms vir die vier jeugsentrums in Bloemfontein te reël,’ vertel Fourie.

Sy sê lede van die gemeenskap gesels dikwels oor hoe om terug te gee aan ander, waar om betrokke te raak, waar om klere te skenk, of by te dra, en dan verdwyn die idee en die gesprek is vergete. “Ek hoop dat ons met hierdie inisiatief sommige van die behoeftes by die jeugsentrums kan uitlig en dit makliker sal maak vir mense om te skenk en in die toekoms betrokke te raak,” sê sy.

Fourie het aan Bloemfontein Courant gesê dat Warm Karoo sy fasiliteite aangebied het om ‘n Kersviering op 1 Desember aan te bied. “Baie donasies het ingestroom en ons is so dankbaar daarvoor.

Dié Kersdag sal ‘n wonderlike bederf vir die kinders wees, maar ek dink die belangrikste is die hulp van die gemeenskap om kospakkies te voorsien om die kinders oor die Kerstyd te voed en te verseker dat hulle kos kry,” sê Fourie.

Die kospakkies waarna Fourie verwys, bestaan slegs uit die nodigste artikels en bedra R300 per kind per kospakkie.

Hierdie jaar wil ek vir die kinders die boodskap bring dat hulle so mooi soos vuurwerke is, dat hulle net ‘n bietjie hulp nodig het om hul kleure te laat skyn en veral te weet dat die res van die wêreld nie hul bestaan of stryd om oorlewing vergeet het nie. Ons as gemeenskap is net so sterk as ons swakste punt. Ons moet hierdie kinders versorg, aanmoedig en blootstel aan die liefdevolle gemeenskap wat ons moet wees. Ek glo regtig dat ons almal iets positiefs nodig het, veral met die Covid-19-pandemie wat almal steeds raak,” sluit sy af.

Fourie moedig die Bloemfonteinse gemeenskap aan om fondse vir ‘n kospakkie aan ENGO te skenk en sodoende te help dat benodigdhede gekoop kan word. Maak asseblief u bydrae by www.engo.co.za/product/donasie, met spesifieke verwysing na: Kersprojek.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za