Kerkleiers bly oor verslapping

0
452
Ds. Jan Lubbe

Ná meer as twee maande se wag, gaan kerkleiers regoor Suid-Afrika weer hul volwaardige plek in hul gemeente kan inneem.

Dit nadat president Cyril Ramaphosa Dinsdag aangekondig het dat kerke weer hul deure mag open, hoewel onder streng regulasies, en met nie meer as 50 mense per kerkdiens nie. Bloemfontein Courant het na ‘n paar kerke in die stad uitgereik en gevind dat die gevoel onder predikante min of meer dieselfde is. Baie het gesê dat hulle dankbaar is dat hulle nou weer mense sal kan help wat dit nodig het, en al is daar nog nie vasgestelde planne in plek nie, sien hulle daarna uit om weer saam te kan aanbid.

Ds. Petrie Spies

Pastoor Willie Norris van Gospel Workers Ministries in Heidedal het gister gesê dat hulle geen oorhaastige besluite wil neem nie. “Dit is ‘n groot verantwoordelikheid en daar sal goed besin moet word en seker gemaak moet word dat die regte besluite geneem word.” Hy het bygevoeg, “Ons wil graag jonk en oud se belange akkommodeer.”

Hy is dankbaar om nou vryelik te kan beweeg, huisbesoek te doen en net daardie bietjie individuele aandag aan mense wat dit nodig het, te kan gee. Ds. Jan Lubbe van Berg-en-Dal in Dan Pienaar het verduidelik dat hulle ook eers in volgende week besluite sal neem. Hy sê hulle besef die werklikheid van die situasie en dat hulle verantwoordelik moet optree aangesien dit ook nou winter is.

Past. Willie Norris

“Ons moet ook dink aan die kwesbare groepe soos mense bo 60 en die met ander onderliggende siektes.” Lubbe sien baie daarna uit wanneer mense weer normaalweg kan terugkeer na kerke en die gemeenskap van gelowiges beleef. Hul aanlyndienste werk goed, maar kan nie in alle behoeftes voorsien nie.

Ds. Petrie Spies van die Baptistekerk in Langenhovenpark sê dat hulle ook nog ‘n paar goed moet uitstryk, maar dat hulle baie bly is dat hulle nou meer sal kan werk.

“Ons sal seker in volgende week meer vaste planne hê oor die rigting waarin ons sal beweeg.” Spies sê dat alles baie mooi beplan moet word. “Alhoewel daar sosiale distansiëring moet wees, sien ek baie uit om net weer almal by mekaar te hê, om saam te bid.

Daar is net iets in die saamwees by ‘n kerk wat almal mis en al is dit beperk, is dit steeds goed.”

Apostel Mohau Rammile

Apostel Mohau Rammile van die Global Reconciliation Church in Bloemanda het verduidelik dat hul plan is om mense te laat registreer op WhatsApp vir die diens wat hulle sal kan bywoon. Wanneer die lys vol is, maak die WhatsApp toe en sal hy ‘n ander een oopmaak.

As hulle meer as een diens het, sal daar ‘n uur tussenin wees om die gebou, mikrofone en alles wat gebruik is, te ontsmet vir die volgende groep. “Ons het ‘n mediese span wat mense se temperatuur sal neem, saniteerders sal beskikbaar wees wanneer mense in- en uitgaan.

Die kerk het ook bystandsbeamptes wat sal help.” Hy sien baie uit om weer kerk te kan hou omdat daar baie mense is wat nie toegang het tot aanlyndienste nie; hy sien uit na die saamwees met ander, al is dit op ‘n afstand en om net weer daar te kan wees vir die gemeente.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za