Kerk vind nuwe maniere om fondse te in

0
197
Doenig in die kombuis is van links Rika Lombaard, Merriam Shomaele, dr. Enrico Casaleggio, en Toekie Casaleggio.

Die NG Gemeente Fichardtpark, Bloemfontein het aan die begin van die jaar ‘n Fich-Mark in samewerking met Fichardtpark Woonbuurt-assosiasie (FWA), begin om fondse te genereer.

Hulle kon egter net een so ‘n geleentheid hou voordat die inperking ingestel is.
Volgens die skriba van die kerk, Reneé Ferreira, het hulle toe besluit om op ‘n manier daarvoor te vergoed deur kerrie en rys te verkoop, maar steeds die regulasies na te kom.
Ferreira het verduidelik dat hulle die eerste “Drive-thru”-fondsinsameling op 17 Julie 2020 gehou het.

Sy het aan Bloemfontein Courant gesê dat mense se gesondheid en veiligheid vir hulle van die grootste belang is. “Ons adverteer dus op die kerk se afkondigings dat ons kerrie en rys verkoop asook op ander sosialemedia-platforms, byvoorbeeld Facebook.”

Mense wat belangstel, bestel dan telefonies of per e-pos. Die bestellings sluit ook ‘n paar dae voor die tyd.

Reneé Ferreira wys die lekker kerrie en rys en malvapoeding wat verkoop word.

Ferreira het vertel dat bestellings vir elke persoon apart op ‘n tafel in die kerksaal uitgepak word. Wanneer mense op die terrein van die kerksaal kom, is daar bordjies wat aandui in watter rigting hulle moet ry en waar hulle moet stilhou. Hulle mag nie uit hulle motors klim nie.

Helpende lidmate gaan haal dan die bestelling, neem dit na die motors en ontvang die geld daarvoor. “Die hele proses neem enkele minute, met die gevolg dat daar geen samedromming is nie. Almal moet die hele tyd maskers dra en handreiniger is die hele tyd beskikbaar.”

Die fondse is in die eerste plek om die algemene uitgawes van die gemeente te dek. Die gemeente is ook betrokke by baie ander sake wat fondse vereis, asook om hulp aan behoeftiges in Bloemfontein te verleen soos kos en komberse.

Volgens Ferreira vra die pandemie ook vir ander maniere van bediening. Die predikant, dr. Enrico Casaleggio, stuur elke oggend vir die gemeente ‘n dagstukkie uit wat hy geskryf het. Saans word daar ook ‘n stemboodskap uitgestuur met ‘n boodskap.

Sy sê die volgende kerrie en rys-verkoping is nou Vrydag en dan weer op Vrydag 14 Augustus. Belangstellendes kan na die gemeente se Facebook-blad gaan of die kerk se webwerf by www.ngkerkfichardtpark.co.za besoek. Die kerkkantoor kan ook gekontak word by 051-522-5418 of ‘n e-pos gestuur word na ngfpark@xsinet.co.za.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za