Kerk vier ‘nagmaal op wiele’

0
242
'n Vrywilliger bedien nagmaal aan lidmate tydens Doxa Deo se spesiale deurry-nagmaal.

Die Doxa Deo Kerk in Fichardtpark, Bloemfontein, het die afgelope Sondag met ‘n unieke plan vorendag gekom toe die gemeente met ‘n deurry-nagmaal bedien is.

Volgens die Doxa Deo-stadsleier, Danie Roodt, het hulle tydens die inperking aanlyn kerk gehou en sal dié platform steeds gebruik word. Hulle het egter gesien dat baie mense sukkel wanneer dit by aanlyn-nagmaalviering kom.

Hy vertel hoe die deurry gewerk het. Mense kon vir die geleentheid registreer. Mense was deurentyd in hul motors en kon geensins hul voertuig verlaat het nadat hulle die kerkparkeerterrein binnegekom het nie.

By die hoofhek was daar iets spesiaals vir die kinders, en motors kon by een van die bemande stasies stilhou waar vrywilligers hulle verwelkom het en daar vir hulle gebid is. Dit alles met maskers, terwyl sosiale afstand gehandhaaf is.

“Alle volwassenes het ‘n higiëniese, voorafverpakte, geseëlde houer met brood en druiwesap van een van die leiers ontvang. Mense kon dan op aangewese parkeerplekke parkeer om nagmaal te geniet.

Roodt het verder aan Bloemfontein Courant verduidelik dat nagmaal iets is wat Christene saam vier. Die inperking het dit onmoonlik gemaak en mense moes nagmaal in die afsondering van hul huise hou. “Ons het net besef dat ons miskien ‘n veilige, maar doeltreffende manier kan vind, en ‘iets veiligs’ saam ervaar.”

Die kerk wil graag verskillende geleenthede vir mense skep om kerk te ervaar en omdat Doxa Deo ‘n kerk is met meestal jong mense en gesinne, het lidmate die kreatiwiteit en opsies waardeer.

Roodt sê dat hulle baie streng was om alle protokol te volg en die brood en druiwesap is met die grootste versigtigheid en voorsorgmaatreëls ingepak en voor die geleentheid verseël.

“Vir alle veiligheid het alle vrywilligers sosiale afstand behou, maskers gedra en gesaniteer. Inligting oor almal wat die nagmaalbyeenkoms.bygewoon het, is versamel.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za