Kerk in noorde van Bfn nie deur brand beskadig

0
880
Die Breakthrough City Church in die noorde van Bloemfontein het gister tydens ‘n brand nie skade opgedoen nie.

Candice Richards, ‘n pastoor by die kerk, het aan OFM-nuus gesê die kerk is geleë op ‘n plaas wat besit word deur ‘n paartjie wat tans oorsee is. Sy sê die kerkgebou is onbeskadig ná die brand. Richards het egter vertel dat die huis van een van die werkers op die plaas afgebrand het en dat donkies by ‘n buurplaas in die vuur omgekom het. Dit kon egter nog nie bevestig word nie. Volgens Richards is meer as 2000 olyfbome op die plaas ook deur die brand verwoes.

OFM-nuus het voorheen berig dat Centlec-woordvoerder, Lele Mamatu, bevestig het dat die brand nie deur ‘n kragboks op die landgoed veroorsaak is nie.  Daar was aanvanklik sprake daarvan dat daar ‘n ontploffing by ‘n kragboks was en dat die brand só ontstaan het en die rede vir die kragonderbreking was. Mamatu het verduidelik dat die Centlec-span los stukke borrelplastiek met ‘n blink laag vir isolering onder ‘n sinkplaat ontdek het, wat na bewering deur wind opgewaai is teen kragdrade en ‘n kortsluiting veroorsaak het. Dit is ook wat die kragtoevoer in die omgewing onderbreek het.

Alhoewel Centlec dit reggekry het om die kragvoorsiening te herstel, moes hulle wag op die brandweer se toestemming om die elektrisiteit weer aan te skakel.

Die Brandweer is sowat 19:30 ontplooi na ‘n woning by Riversdale waar dit ook gebrand het. Volgens een van die inwoners wat gehelp het om die brand te blus by die Wildealskloof Shooting Range, kon die brandbestryders nie by die brandende perseel ingaan nie.

OFM-nuus/Elsabé Richard