Kenneth Kaunda eis vier lewens vanjaar

0
1681
Van die vele ongelukke wat al in Kenneth Kaundaweg plaasgevind het.

Een van die bekende, besige paaie in Bloemfontein het in dié jaar alleenlik sowat 12 ongelukke opgelewer en vier lewens geëis.
Kenneth Kaundaweg staan reeds bekend as Bloemfontein se eie Kyalami-resiesbaan. Motoriste ry nie graag net 60 km/h nie en is nie altyd bewus van die gevare wat hierdie pad inhou nie.
‘n Sekere gedeelte van die pad, ongeveer 400 meter, is so glad as dit reën, dat daar elke keer ‘n ongeluk gebeur. “As dit reën, moet jy weet jy moenie in die linkerbaan ry wat in die noordelike rigting gaan nie, want jy gaan in die moeilikheid beland en ‘n ongeluk maak, al ry jy net 40 km/h” sê Alicia Connoway, een van die inwoners in die straat wat elke keer op ‘n ongelukstoneel is om te help.
Sy vertel dat daar sowat vier of vyf families is wat saamwerk as daar ‘n ongeluk plaasvind. Een persoon reguleer die verkeer, die ander help met noodhulp, ‘n ander bel die nooddienste en so werk hulle saam om vining op die ongeluk te reageer en hulp te ontbied.
Connoway het besluit sy wil houtkruise maak en by elke ongelukstoneel ‘n kruis opsit met die woorde, ‘Mangaung Municipality, how many more people must die?’ Ons het al verskeie kere gaan kla oor die pad en om hulp gevra, maar niks word gedoen nie. Ons woorde val op dowe ore.”
Connoway onthou ‘n spesifieke geleentheid waar daar mense aan die pad gewerk het en een van die raadslede gesê het, “This will be the best road in South Africa.” Nou bevraagteken sy sy woorde, want die teenoorgestelde van sy stelling is besig om te gebeur.
Die vraag wat beantwoord moet word, is wie die verantwoordelikheid gaan neem vir die probleem? Is dit die kontrakteurs wat die pad gebou het of die mense wat die materiaal verskaf het vir die bou daarvan? “Die bitumen is nie van goeie gehalte nie. Dit smelt as dit te warm word, skuif dan rond en word seepglad as dit net ‘n bietjie water kry,” meen Jaco Connoway, Alicia se man.
“Elke keer is daar ‘n kontrakteur wat aan die pad werk, maar hy word nie betaal nie en dan word die werk nie klaargemaak nie. Daar word dan ‘n ander kontrakteur aangestel. Die pad kos al sowat R60 miljoen, en dit vir wat? ‘n Pad wat net ongelukke veroorsaak?”
Inwoners wil weet waar die tragedies gaan eindig. Hoeveel mense moet nog hul lewe verloor voordat iets aan die pad gedoen word?
“As jy in die aand ‘n slag hoor en mense begin gil, word jy yskoud. Jy hardloop uit om te help, in jou nagklere, sonder skoene.”

Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za