Die bekende atleet in Bloemfonteinse Comrades ultramarathon-kringe, Claus Kempen het Woensdagaand in die Rosestad ‘n gerieflike oorwinning behaal by die DirtyTrail-wedloop wat in Langenhovenpark beslis is.
Die 32 jarige Kempen, wat die uitmergelende Comrades reeds 12 keer agtereenvolgens voltooi het, het Woensdag die pas van meet af aan warm gemaak en dié wedloop van ongeveer 7,5km en wat oor ruwe terrein by Stuck-in-the-Mud in 32:35 sy eie gemaak.
Kempen het die tweede atleet, Greg McQueen (34:45) met meer as twee minute uitgestof. Dustin Gower was derde in 34:45.
Leana Esterhuizen het onder die skoner geslag ook nie veel teenstand beleef nie en het die eindstreep bereik in ‘n haastige 39:04. Sy is gevolg deur Mandy Albertyn (40:09) en Carien Smit (40:51).
Esterhuizen is ‘n gereelde wenner in die veterane afdeling vir vroue by ander trail-wedlope in Bloemfontein.
Die atleet wat egter die harte van die menige gesteel het, was die tenger 6-jarige Reynaldo Uys. Dié knapie het die wedloop trompop getakel saam met sy ma, Lee-Ann en hulle het in ‘n goeie 51:51 klaargemaak. Uys was 87ste uit 161 atlete wat die wedloop voltooi het.