Dit het sowat sewe weke gelede geblyk of Kate Roberts, een van Suid-Afrika se beste driekampatlete van alle tye, nié betyds gaan herstel van ‘n besering wat haar lank van behoorlike voorbereiding vir die Statebondspele oor twee weke in Glasgow gekniehalter het nie.
Maar, hierdie taai-soos-‘n-ratel sportvrou van Bloemfontein is op pad om haar beste peil te bereik en dit sal nie as ‘n verrassing kom indien sy in Glasgow op die podium verskyn nie.
Roberts het kort nadat sy van genoemde besering herstel het op 1 Junie ‘n swak (gemeet aan haar eie standaarde) 57ste plek in Londen behaal in die korter weergawe (sprint) van driekamp. Sy het meer as ses minute agter die wenner geëindig.
Haar herstelproses grens egter aan ‘n sprokiesverhaal. Sy het hard op haar tande gekners in oefeninge en sy het onlangs die bykans onmoontlike verbetering sedert Londen getoon.
Die 31-jarige oudskolier van Eunice het haar in Holten (Nederland) teen goeie mededinging begewe en dié keer in die volstandaardafstand. Sy is na die swemskof saam met die voorlopers uit die water en het daarna ‘n skitterende fietsryskof afgelê om steeds binne trefafstand van die voorlopers te wees.
Die laaste skof (hardloop, 10 km) het egter sy tol geëis en Roberts het hier heelwat tyd ingeboet. Sy het uiteindelik in ‘n goeie derdeplek in 2:06:44 geeindig en is slegs deur Rachel Klamer (Nederland, 2:04:48) en Audrey Merle (Frankryk, 2:06:11) geklop. Sy het haar mede-Suid-Afrikaner, Vicky van der Merwe (12de, 2:10:13) ver agterweë gelaat.
info@centralmediagroup.co.za