Kate Roberts verras by VS-veldwedloopkampioenskap

0
635
RUFUS BOTHA

Die silwermedaljewenner in die driekamp-spankompetisie by die Statebondspele in Glasgow (Skotland), Kate Roberts, het ‘n paar dae na haar terugkeer uit Skotland ‘n draai by haar ouerhuis in Bloemfontein gemaak en besluit om Saterdag aan die Vrystaat-veldwedloopkampioenskap in die Rosestad deel te neem.

En ja, reg geraai – Roberts het die provinsie se voorste senior langasemvroue in die Vrystaat bloedneus gegee. Sy was in die

8 km vir senior vroue in ‘n titaniese stryd met die Vrystaat se voorste vroue-veldwedloopatleet, Annah Moeketsi (Transnet), gewikkel, maar Roberts se oordeel was té goed. Moeketsi het van die begin af voor gehardloop en ‘n haastige pas gehandhaaf om die eerste 2 km sowat 100 m voor Roberts te bereik.

Roberts het egter die gaping geleidelik verklein en by die halfpadmerk (4 km) was sy slegs 20 meter agter Moeketsi. Voor die 5 km-merk het Roberts met ‘n verbysterende pas by Moeketsi verbygesnel en laasgenoemde se fut uitgehardloop. Roberts het die eindstreep in 30:03 bereik en Moeketsi moes met die silwermedalje in 30:18 tevrede wees. Siphokazi Diko (Sibanye Gold, 32:50) was baie ver agter in die derdeplek.

Die seniormans-wedloop (12 km) was ewe opwindend. Heelparty atlete wat reeds die land verteenwoordig het, het mekaar die stryd aangesê. Die Kovsies se Khotatso Mokone het oudergewoonte ‘n spreekwoordelike selfmoordpas oor die eerste paar kilometer daargestel, net om later stoom te verloor en vierde (37:22) te eindig. Die Suid-Afrikaanse juniorrekordhouer in die 1500 m,

Dumisane Hlaselo (Kovsies) het kopgehou en na puik oordeel in ‘n haastige 36:48 geseëvier. Hy is gevolg deur Godfrey Ramakone (Individueel, 37:02) en nog ‘n individuele inskrywing, Samuel Matsepe (37:17).

Die voormalige Suid-Afrikaanse veldwedloopkampioen, Boy Soke (Kovsies, 37:46) was vyfde en bykans ‘n minuut agter die wenner. Een ding het soos ‘n paal bo water uitgestaan onder die jonger atlete.

Carlé Stockenström (Willem Postma) loop oor van talent. Dit het sy reeds by Bloemfontein-veldwedloopligas gewys, maar Saterdag het sy dit onderstreep deur die Vrystaat se bestes in die wedloop vir meisies (8 jaar) oor 1 km aan flarde te hardloop.

Sy het gewen in 4:24 en was bykans 100 m voor die naaswenner, Lerato Mokobe (Kgato, 4:43) oor dié kort afstand. Die wedloop is saam met die seuns beslis en Stockenström het boonop agt sekondes voor die wenner van die seunswedloop oor die eindstreep gehardloop.

‘n Mens kan slegs hoop dat Stockenström soos goud opgepas word en nié soos duisende jong atlete in Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis weens te veel prestasiedruk later van die toneel gaan verdwyn nie.