OWEN KOCK
“Om te plant, is harde werk; om te stroop wat jy geplant het, is net genade.” Met dié woorde van sy oorlede pa Tokkie, pak Chris Kasselman, sy broers Tokkie en Sas die boerderybedryf aan en bevind hulle nooit op moedverloor se vlakte nie.
Die Kasselmans boer op die plaas Volstruisspan buite Wesselbron met mielies, sonneblom, koring en beeste. Dan is daar nog so 70 emu’s ook op die plaas.
“Kyk dis maar mielie-wêreld hierdie en jy probeer maar bou met wat die area bied. Oor hoe ‘n bestaan gemaak word in Wesselsbron moet ek sê dis ‘n moeilike vraag, maar dit is maar soos my pa gesê het oor die planter en die stropery.
“Ek het vanjaar weer gesien, ‘n mens is maar aan die genade van Bo oorgelaat in die boerdery. As dit net reën op die regte tyd maak dit ‘n ongeloofl ike groot verskil. Ek is hier gebore en het hier groot geword en dis die geleentheid wat ek het om hier te kan boer saam met my broers,” het Chris, die oudste van die Kasselmanseuns aan AgriEco gesê .
Met die resessie wat die laaste paar jaar gedruk het en die droogte wat vanjaar in die Vrystaat woed, bly die Kasselmans steeds positief, want hulle glo hulle boer op goeie grond.
“Ons het goeie watertafellande en dis dan ook ‘n groot faktor waarop ons maar altyd staatmaak. Die insetkoste en die risiko is maar groot. Diesel word amper onbekostigbaar duur, maar gelukkig is die mielieprys nou goed, so dit balanseer mekaar uit.”
Dis hier waar broer Tokkie aansluit en met ouboet Chris saamstem dat dit alles maar gaan om oorlewing en om uit te brei.
“Dit gaan daaroor om nie te stagneer nie. Jy moet maar probeer om huurgronde te kry en groter word, want die kleiner boere word al hoe minder en die groot boere gaan al hoe meer vooruit,” vertel Tokkie. Vir Tokkie, wat net soos sy broers Chris en Sas provinsiale rugby gespeel het, en oefeing gehaat het, hou die plaas hom goed aan die gang, want hy glo dat net harde werk jou bo uitbring.
Pa Tokkie se skielike heengaan vroeër vanjaar was vir die Kasselsmans ‘n gevoelige slag. “Ja dit was ‘n groot terugslag vir ons familie gewees, veral vir ons hier op die plaas. Hy was ons mentor, ons kon altyd by hom raad vra en wat my betref het hy alles geweet – dit is wat ons vandag in ons boerdery toepas,” het Tokkie junior met deernis in sy stem gesê.
Wat hom egter pla oor die toekoms van boerdery in Suid-Afrika is die grondhervormingsprogramme, want, sê hy, daar heers groot onsekerheid onder almal en of grond behoue gaan bly en of dit weggeneem gaan word. “Ek dink ons moet maar net Boontoe kyk en dan glo ek ons gaan oraait wees.”