Karoo se Zen-meester deur UV vereer

0
1270
Afgetrede advokaat en Zen-meester, Antony Osler. FOTO: CHRIS MARAIS, WWW.KAROOSPACE.CO.ZA

Afgetrede advokaat en Zen-meester, Antony Osler, en sy suster, Marguerite van der Merwe (née Osler), ontvang vandag albei kanseliersmedaljes tydens die Universiteit van die Vrystaat (UV) se wintergradeplegtigheid.

Dit gebeur selde dat meer as een kanseliersmedalje per jaar toegeken word. Elke geval word uiteraard op eie meriete oorweeg en riglyne word op ‘n buigsame wyse toegepas.
Die kanseliersmedalje word aan ‘n individu toegeken vir uitmuntende diens of prestasie op plaaslike, nasionale of internasionale vlak, of vir diens aan die gemeenskap of die universiteit.

Antony en Marguerite is die kinders van Stanley Osler, ‘n prominente pedagoog (vroeë 1930’s tot die einde van 1960) en Springbok-rugbyspeler, wat ‘n groot bydrae gelewer het tot die Nasionale Raad vir Onderwys ten opsigte van die ontwikkeling van ‘n enkele onderwysstelsel. “Soos hy, is Antony en Marguerite ook verbind tot ‘n etiese pad van onderwys, gebaseer op persoonlike, geestelike, intellektuele, emosionele en fisieke ontwikkeling. Hulle werk nou saam in hul verwante velde.”

Só skryf J.C. van der Merwe, adjunk-direkteur: Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid aan die UV, in sy motivering vir die toekenning van die kanseliersmedaljes aan Antony en Marguerite.

Antony het in 1987 na ‘n klein skaapplaas naby Colesberg, genaamd Poplar Grove, verhuis, waar hy die land se eerste (sover bekend) en enigste landelike mobiele regskliniek vir Prokureurs vir Menseregte op die been gebring het. Die regskliniek het sy regsaktivisme van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 af beoefen en het later begin spesialiseer in die verspreiding van inligting van die Regshulpraad in landelike gebiede om sodoende regshulp en -kennis uit te brei na die armes. In 2003 moes die regskliniek egter sluit weens ‘n gebrek aan befondsing.

Sedertdien spesialiseer Anthony in gemeenskap- en arbeidswerk. Hy was ‘n ad hoc-lid van die Nywerheidshof (nou die Arbeidshof) en daarná ‘n deeltydse senior kommissaris van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), sowel as ‘n paneellid op ‘n aantal private en regeringsorganisasies. Hy is steeds besig met arbeidsarbitrasies op ‘n semi-afgetrede basis.

Van der Merwe vertel Antony is ook formeel erken as ‘n onderwyser in die Zen Koan-tradisie van Furnace Mountain en lei gereeld Zen-wegbreke vir belangstellendes op die plaas asook in groter stedelike sentra. “Die kenmerk van hierdie Zen-praktyk is die toepassing van Zen-beginsels in ‘n kontemporêre Suid-Afrika en onder gewone Suid-Afrikaners, asook om te kyk op watter kreatiewe maniere dit die angs van ons samelewing kan genees. In ooreenstemming met hierdie, hou hy en sy vrou Margie gereeld werksessies op die plaas vir mishandelde en getraumatiseerde plaaslike kinders. Hul werk met kinders onderstreep die ontwikkeling van ‘n ware inklusiewe gemeenskap, ongeag ras, geslag of godsdiens.”
Marguerite, aan die ander kant, het onvermoeid en kreatief gewerk sedert 1987 om die onbekende Alexander-tegniek te bestudeer en te vestig. Dié tegniek, wat deur FM Alexander ontwikkel is, word deur kenners soos John Dewey en Sir George Trevelyan (onderwys), Sir Charles Sherrington, Raymond Dart (wetenskap, neurowetenskap, neurofisika) as ‘n praktiese, visioenêre, opvoedkundige/voorkomend/herstellende metode vir ‘n wye verskeidenheid van fisieke probleme beskryf.

Marguerite beskou dit haar roeping en het ‘n unieke manier van onderrig ontwikkel om ekologie, poësie en wysheidonderrig vir alle ouderdomme in te sluit. Sy word wyd erken vir die kreatiwiteit en integriteit van haar benadering, haar ervaring, ‘n onberispelike onderrigstyl en begrip van die menslike natuur, asook haar sagte leiding in die regstelling van baie wanbalanse wat deur die moderne lewenstyl veroorsaak is.

Sy het honderde mense van alle ouderdomme in staat gestel om meer bedrewe te raak met dit wat hulle doen. Haar groot doel is om doeltreffende maniere te vind om hierdie werk aan die onderwysstelsel voor te stel as ‘n noodsaaklike gebied vir die ontwikkeling van die land en sy mense. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za