Karel Schoeman se laaste reis

0
5613
Karel Schoeman, bekroonde Afrikaanse skrywer, gesels met Hendrik Rheeder, seun van sy getroue vriendin, Marie Rheeder, op ‘n besoek aan die Morija-museum in Lesotho verlede maand. Dit is die laaste foto wat Rheeder van Schoeman geneem het.

Karel Schoeman het verlede maand op drie geleenthede na Lesotho gereis om afskeid te neem van die Bergkoninkryk, ‘n vakansiebestemming wat hy gereeld as kind besoek het.
So sê Marie Rheeder, ‘n barmhartige Samaritaan en vriend wat die bekroonde skrywer die laaste ruk oral vervoer het.
Schoeman is Maandagaand in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein dood nadat hy verlede Donderdag in ‘n brief aan sy prokureur sy voorneme om sy eie lewe te neem, uiteengesit het. In die brief skryf Schoeman hy het genoeg van “veroudering meegemaak” om seker te wees dat hy self nie oud wil word nie.
“Dit was duidelik dat Oom Karel na Lesotho gereis het om te gaan afskeid neem. Tydens een van die reise het hy aan my gesê: ‘Marie, hierdie sal die laaste rit wees’,” vertel Rheeder.
Rheeder, wat Schoeman op ál drie die reise vergesel het, sê op die laaste rit het Schoeman ook sy huiswerker, Jemina Meko, en dié se suster saamgeneeem om Lesotho aan hulle te wys. Meko het Schoeman se lyk Maandag in sy huis in die oord aangetref.
Volgens Rheeder het Schoeman, wat geen TV-stel besit het nie, gereeld van YouTube gebruik gemaak om navorsing vir sy reise te doen. Sy sê, ondanks die feit dat hy as alleenmens bekend was, het hy gehou van reis en het hy ‘n baie skerp sin vir humor gehad.
“Hy het op ‘n keer vir my gesê: ‘Marie, jy moet leer om vir mense nee te sê. Maar jy mag net nie vir my nee sê nie.’ Ek sal veral vir sy goeie humorsin mis.”
Albé Grobbelaar, voormalige radio-omroeper en rubriekskrywer van Bloemfontein Courant, sê as aanhanger van Karel Schoeman se boeke is hy hartseer oor sy dood, maar hy het groot begrip vir wat die skrywer gedoen het.
Grobbelaar, wat toevallig twee weke gelede sy rubriek in Courant aan die ongemak en pyn van oudword gewy het, sê mense moet verstaan dat die fisieke agteruitgang van die menslike liggaam kan lei tot vrese oor die verlies aan onafhanklikheid.
“As ek kyk na die verklaring wat Schoeman agtergelaat het, is dit duidelik dat hy sy selfdood al ‘n paar jaar lank beplan het. Hy het duidelik nie kans gesien om afhanklik van mense te wees nie.
“Hy het juis die hoop uitgespreek dat wetgewing in die land sodanig sal verander dat begeleide selfdood onder gereguleerde omstandighede ‘n opsie kan word vir bejaardes wat nie met die agteruitgang van hul liggame kan saamleef nie.”
Grobbelaar beskryf Schoeman as “een van die vyf grootstes in die Afrikaanse lettekunde. “‘n Groot boom het in Bloemfontein geval. Ek het ‘n paar van sy boeke gelees, en was veral aangegryp deur Die laaste Afrikaanse boek. Schoeman se ongelooflike gebruik van die Afrikaanse taal om sekere situasies uit te beeld, het hom enig in sy soort gemaak.”
Volgens Carl van Rensburg van Rosendorff Reitz Barry, Schoeman se prokureur, sal ‘n nadoodse ondersoek gedoen word waarná die boedelberedderingsproses kan begin, skryf Christal-Lize Muller.
“Die dokter het bevestig dat hy (Schoeman) aan onnatuurlike oorsake dood is. Daar sal nou vasgestel moet word hoe hy homself om die lewe gebring het,” sê Van Rensburg.
Volgens Van Rensburg het Schoeman oor die jare verskeie opdragte aan hom gegee, onder meer dat daar geen seremonie na sy dood gehou moet word nie. Hy wil veras word en het aan Van Rensburg opdrag gegee dat Van Rensburg sy as iewers moet strooi. Dit sal wees op ‘n plek “waaroor ek nog moet besluit,” sê Van Rensburg. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za