Kaperjolle bring unieke uitstallers

0
837

LANI FOUCHÉ

Die heel eerste Kersie Kaperjolle op Clocolan het gesorg dat unieke plaaslike talent in die kalklig kom en was ook sommer ’n lekker kans om saam te kuier.  Die Kaperjolle is die afgelope naweek by The Cabin-padstal in net buite Clocolan gehou, waartydens tientalle plaaslike boere, kunstenaars en baksters ’n kans gegun is om hul vernuf aan duisende besoekers te vertoon.
Clocolan is een van die grootste kersieproduserende gebiede in die land, en lok jaarliks baie besoekers juis om hierdie rede. Die Kaperjolle het die afgelope naweek byna 4 000 besoekers gelok, wat die organiseerder, Antoinette Roos, se grootste verwagtinge oortref het. “Ons gaan dit nou twee maal ’n jaar doen. ’n Winter Kaperjolle gaan in die winter gehou word, en die Kersie Kersmark Kaperjolle in November elke jaar.”

Een van die interessante uitstallers by dié jaar se Kaperjolle het besoekers aan die gons gehad. Riana Minnaar en haar dogter, Philna le Roux, vertel van die verskillende olies wat op hulle plaas, Vlakbult Gasteplaas buite Clocolan, verwerk word. Le Roux sê haar ingenieur-pa het in 1992 die besigheid Hoogland Eteriese Olies begin, omdat hy op soek was na ’n uitdaging. “My pa en ma het op hierdie besigheid afgekom en toe het ons begin boer met kakiebosolie. Ons plant jaarliks so 600 ha kakiebos, en dan verwerk ons dit deur dit te distilleer en deur ’n kookproses te sit.”

Hul olies word in verskeie ander lande versprei. Dit word gebruik in parfuums, lyfrome, badsoute en – glo dit of nie – die kosgeurmiddel Aromat. Dit is ook een van die hoofbestanddele in hondesjampoes, omdat dit ‘n uitstekende vlooie- en bosluis-afweerder is. “Dit word ook in baie medisynes gebruik. Roosolies se hoofbedryf is vir die maak van medisynes. Die genees-eienskappe daarvan is ongelooflik.” Roos en laventel is van die enigste olies wat suiwer op ’n baba se vel gebruik kan word.
Die olies wat hulle vervaardig is baie gekonsentreerd. Le Roux verduidelik: “Jy gebruik tien ton om ’n liter olie te vervaardig, so dis baie dig en gekonsentreerd. Met rose gebruik ons so 3.5 miljoen roosblare om ’n liter roosolie te maak.”

Roosolie is een van die duurder olies, maar die konsentrasie stel die prys vas. “Roosolie is duur omdat dit baie vlugtig is, wat vereis dat dit voor sonop gepluk moet word. Dit is ook wateroplosbaar, so jy moet jou water oorversadig maak om jou olie uit te kry.” Dít, sê Le Roux, is ’n lang proses wat baie geduld verg. Die roosolie wat hulle vervaardig, kos ongeveer R6 per drupel.