GEORG VAN ECK
Die jaarlikse Grey Kollege toernooi vir o.18-waterpolospanne, wat in samewerking met Itec en Van Rensburg Patoloë aangebied is, het uithalerspel en taai stryde in die Gustav Fichardt-swembad by die skool in Bloemfontein gelewer. Sestien spanne vanoor die hele land is genooi om deel te neem en onder hulle het van die sterkste in Suid-Afrika getel. Die spanne, wat oor drie dae in die toernooi in aksie was, is: St.Stithians (Jhb), Grey Hoër (PE), Clifton (KZN), Reddam (Kaapstad), Pretoria Boys High, Parktown (Jhb), Selborne (Oos-Londen), St. Andrews (Grahamstad), Pearson (PE), Wynberg (Kaapstad), Grey Kollege (Bfn), St. Peters (Jhb), Afrikaanse Hoër Seunskool (Pta), Glenwood (Dbn) en Stirling (Oos-Londen).
Die spanne het in vier afdelings onderling meegeding en dit was St. Stithians, Grey Hoër, Clifton en Reddam wat as die vier groepwenners uit die stryd getree het. Die vier spanne het teen mekaar uitgespeel. In ’n baie harde en gelykopstryd het St. Stithians 9-8 teen Grey Hoër geseëvier, Reddam moes ook swoeg om Clifton 6-4 te klop. In die eindstryd het Reddam en St. Stithians sake uitgespook en die Kapenaars het as die 2013 kampioen uit die stryd getree deur St. Stithians 10-6 te klop.