Kansa verras leerders wie se ouers kanker het

0
1478
Van links is Lache Katzen en Sonet van Zyl van Cansa saam met Elginette Kassim, vrywillige fondsinsamelaar, by van die pakkies wat aan kinders met ouers wat kanker het, geskenk word. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het op Vrydag 10 Januarie hande gevat met Fashion World Bloem Plaza om die finansiële las van gesinne wat deur kanker geraak word te verlig deur pakkies aan skoolkinders te voorsien wie se ouers aan kanker ly.

Volgens Elginette Kassim, ‘n vrywilliger wat met fondsinsamelings help en die inisiatief begin het, het hulle die behoefte raakgesien en besluit om te help met skryfbehoeftes aan sulke kinders.

“Vir ouers wat nie werk of nie ‘n inkomste het nie en behandeling ondergaan, is dit ‘n ekstra las en iets ekstra om hulle oor te bekommer, want die kinders moet nog steeds skool toe te gaan. Daarom het ons besluit om dit nie vir kinders met kanker te doen nie, maar eerder vir die kinders wie se ouers kanker het,” sê Kassim.

Volgens Kansa se afdelingsbestuurder vir dienslewering in die Vrystaat, Lache Katzen, ervaar baie gesinne met kinders finansiële spanning wanneer hulle hul kinders gereedmaak vir skool hierdie tyd van die jaar. “As gesinne die bykomende uitdaging het om ‘n kankerdiagnose te hanteer, word dit nog meer skrikwekkend. Met die aanvang van die nuwe skooljaar is Kansa baie dankbaar vir Fashion World Bloem Plaza wat pakkies skenk, spesifiek vir kinders en gesinne wat ‘n kind, ouer of versorger het wat behandeling ondergaan,” sê Katzen.

Volgens Sonet van Zyl van Kansa sien sy daagliks hoe kanker die lewens van mense beïnvloed. “Mediese koste is hoog en soms kan ‘n ouer nie meer werk nie weens die feit dat hy of sy siek is of ‘n siek kind moet bystaan in die hospitaal. Dit is wonderlik om te sien hoe mense uit die gemeenskap betrokke raak en hande vat met ons om ‘n verskil in die kinders se lewens te maak,”sê sy.

Elke pakkie bevat ‘n verskeidenheid skryfbehoeftes ter waarde van R160. “Hierdie pakkies is ‘n welkome verligting vir baie gesinne. Ons moedig ook die gemeenskap aan om skryfbehoeftes, skool- en kospakkies by ons plaaslike Kansa-sorgsentrum in Melvillerylaan 88, Brandwag, te skenk,” sê Katzen.

Enigiemand wat die projek wil ondersteun en betrokke wil raak, kan ‘n aanlynskenking maak via https://www.givengain.com/cause/1056/campaigns/9306/donate/#start op Kansa se webwerf, wat ‘n veilige portaal is.

Kontak alternatiewelik vir Sonet van Zyl by svzyl@cansa.org.za of skakel die Kansa Bloemfontein Care Centre by 051-444-2580.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za