Kankervegtertjie se ouers het hulp nodig

0
1540
Kyra Burger (1), wat op vyf maande met neuroblastoma gediagnoseer is.

Die klein kankervegtertjie, Kyra Burger (1), wat op 5 maande ouderdom met stadium 4-neuroblastomakanker gediagnoseer is en vir wie Bloemfonteiners steeds bid, se ouers het dringend hulp nodig om vir haar mediese onkoste te betaal.

Om geld vir dié doel in te samel gaan hulle nou onder meer ‘n padwedloop en gholfdag in Oktober hou. Die egpaar is ook op soek na borge vir die gholfdag.

Venter het gesê Kyra, wat deesdae graag soentjies blaas, in Maart vanjaar begin het met sterker chemo, wat baie groter risiko vir haar inhou soos onder meer dat sy in skok kan gaan. Sy moet dus permanent naby die intensiewesorgeenheid (ICU) wees. Sy vertel ook hoedat die eerste ronde chemo wat Kyra gekry het, haar ‘n hoë koors laat ontwikkel het.

Kyra Burger (1)

Die babadogtertjie het toe koorsstuipe gekry, wat vir Venter iets is wat sy nooit sal vergeet nie. Dit was vir haar ‘n baie slegte ondervinding om haar kind deur so iets te sien gaan.
“Die week ná haar chemo is die kritiese week, want haar bloedtellings kan val en sy kan baie siek word. Hierdie chemo duur vir vyf dae aanmekaar; drie sakkies die eerste dag en twee elke dag daarna vir die res van die vier dae.” Sy sê hulle bly sowat drie weke aaneen in die hospitaal om seker te maak al klein Kyra se tellings is reg voordat hulle huis toe kan gaan. Slegs ‘n week nadat haar tellings reg is, begin sy weer met chemo.

“Sy het gister, 28 Mei, gegaan vir ‘n skandering. Sy reageer baie goed op hierdie behandeling en die kolle is so min dat ‘n mens hulle byna nie eens sien nie.” Volgens Venter is die dokter baie gelukkig, maar wil steeds hê dat Kyra nog vir een keer sterk chemo kry. Daarna kan sy met die volgende ronde, wat nie meer so sterk is nie, begin. “Sy het vandag (Woensdag) begin met die laaste sterk chemo.”

Volgens Venter wil hulle Kyra ná haar behandeling graag Barcelona toe neem vir immuniteitsterapie wat sal keer dat sy nie weer ‘n insinking beleef nie, want as die kanker sou terugkom sal dit aggressiewer en moeiliker wees om te behandel. Die behandeling strek oor ses maande en is baie duur. Daar is ook nog vliegkaartjies, verblyf, kos, ens., maar vir Venter is die belangrikste dat Kyra die behandeling moet kry. Sy vertel dat hulle volgende jaar Maart beplan om ‘n Celebration of Life-fees te hou, wat ook sal help met fondse.

Die gesin het groot waardering vir die ondersteuning van Kyra se dokters en personeel van die Universitas Akademiese Hospitaal.

Venter, het aan Bloemfontein Courant gevra dat enigiemand wat sou belangstel, ‘n putjie wil borg of wil bydra, haar asseblief moet kontak by 064-680-9544. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za