Kankerlyer (7) wil ook kinders help

0
835

DUANE PETRUS

"Ek hou nie daarvan dat ek so baie uit die skool moet bly om in die hospitaal te wees nie, want ek verlang my maatjies en my juffrou vreeslik as ek hier is."

Vonic Johnson (7) van Heidedal is sedert haar babadae met kanker van haar oë gediagnoseer en het haar regteroog verloor toe sy net ‘n paar maande oud was. Die dokters het vroeër vanjaar dié siekte in haar regterarm ontdek.

"Ek weet nie eintlik wat kanker is nie en ek hou nie van die chemoterapie wat ek ontvang nie. Dit maak dat ek nie lekker voel nie," sê sy.

Alhoewel Vonic nie baie van die hospitaal hou nie, is sy dol oor die personeel en sê sy vertrou dat hulle haar binnekort sal genees.

"Die dokters en die susters help kinders soos ek wat siek is en hulle sê hulle gaan my gou gesond maak, so ek is glad nie bekommerd nie," vertel sy.

Sy is so beïndruk met die manier wat hulle haar behandel dat dit haar droom is om eendag in die voetspore van die Kaapse professor wat haar al die jare behandel, te volg. As sy nie ‘n professor kan wees nie, dan wil sy graag ‘n vlieënier wees.
"Die professor is baie goed en hy help ons kinders. Ek will ook eendag as ek groot is kinders help," sê sy.
Alhoewel Vonic vanjaar baie skoolsdae gemis het omdat sy dit by die hospitaal moet deurbring, spog sy dat sy steeds daarin geslaag het om ‘n goue diploma by haar skool, die Laerskool Credence, te ontvang omdat sy tweede beste in haar klas (graad. 1) presteer het.

"Ek geniet skool. Dit is lekker om te skryf, om met my juffrou te gesels en om met my maatjies te speel. My gunstelingvak is wiskunde en my juffrou sê ek is baie goed daarin," spog sy.
Haar ma, Lavona Sallie (29), sê die stryd teen kanker is ‘n moeilike een, maar sy glo dat haar dogter binnekort genees sal wees.
"Ek is dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van oral ontvang – van familielede, organisasies en individue wat van Vonic gehoor het," sê Sallie.

Hulle sal binnekort weer na Kaapstad vlieg sodat Vonic verdere behandeling daar kan ontvang.

duane@centralmediagroup.co.za