Kan Wayde Woensdag in Bfn die 100m onder 10 sekondes afblits?

0
4804
Wayde van Niekerk FOTO: MORGAN PIEK

Die groot vraag op atletiekgeesdriftiges se lippe is óf die Rosestad se wêreldrekordhouer (400m) Wayde van Niekerk so vroeg soos Woensdagaand by ASA (Atletiek Suid-Afrika) se SPEEDSERIES-atletiekbyeeenkoms by die Mangaungstadion in sy tuisstad reeds sy vaart-tande gaan wys en die 100m in onder 10 sekondes gaan afblits?

Woensdag is die gulde geleentheid vir Bloemfonteiners om Van Niekerk, Suid-Afrika se sportster van die jaar in aksie te sien. Daar wag egter ‘n ellelange seisoen vir hierdie vegter van die Kovsies.

Van Niekerk moet ná Woensdag aan die Vrystaatkampioenskappe deelneem wat Vrydag en Saterdag by die einste Mangaungstadion beslis word en daarna wag die Suid-Afrikaanse senior kampioenskappe op hom. Laasgenoemde word 21 en 22 April in Potchefstroom beslis.

Met hierdie twee byeenkomste op Van Niekerk se agenda en boonop ‘n handvol buitelandse ekspedisies wat voorlê, klink die wêreld-senior kampioenskap, waar Van Niekerk sy wêreldtitel Augustus in Londen in die 400m gaan verdedig spreekwoordelike eeue om te gaan.

Bloot hierdie gedagte laat jou wonder of Van Niekerk nou reeds skerp genoeg gaan wees om Woensdag sub-10-sekondes kan vermag. Aan die anderkant van die muntstuk – hy het onlangs by ‘n klein byeenkoms in Bloemfontein aan sy vaart geskaaf en verspotmaklik 10,24 aangeteken – dit nadat dit duidelik was dat hy nie voluit genael het nie.

Daar sal egter nié na ‘n verwagte tweestryd tussen Van Niekerk en die Suid-Afrikaanse 100m rekordhouer Akani Simbini (9,89), uitgesien kan word nie. Courant het verneem Simbine gaan nie in Bloemfontein in sy eie nommer teen Van Niekerk koppe stamp nie.

Trouens, Courant het nog geen name van ASA bekom van spoedvrate wat van Niekerk die stryd gaan aansê nie.

Van Niekerk gaan voor die aanvang van die byeenkoms vereer word wanneer ‘n amptelike gedenkplaat van die IAAF (International Association of Athletics Federations) as erkenning van sy wêreldrekord in die 400m (43,03) deur die President van ASA, Aleck Skhosana, aan hom oorhandig word.

ASA het in ‘n mediaverklaring te kenne gegee dat daar wel 100m-hekkies, verspring en ‘n myl- (1609m) wedloop, wat deesdae ‘n seldsame nommer is, op die program vir mans aangebring is.

Dit sal interessant wees om te sien hoe na aan die magiese grens van agt meter die opkomende verspringster van die Kovsies, Jovan van Vuuren, in die sand te lande gaan kom, indien nie aan die anderkant van agt meter nie. Hy het reeds vanjaar 7,77m vermag.

Uitverkorenes onder die skoner geslag sal in die 100m, 100m-hekkies en spiesgooi in aksie wees.

Nog ‘n Kovsie, Maryke Brits behoort haar stempel in die genoemde hekkiesnommer af te druk en indien Rikenette Steenkamp (Tuks) haar opwagting maak, kan sy Brits tot nuwe hoogtes aanspoor. Brits het verlede jaar 13,47 in die 100m-hekkies aangeteken, terwyl Steenkamp met ‘n persoonlike beste (2014) van 13,16 spog.

Dit is nog onseker of Suid-Afrika se silwermedaljewenner in die spiesgooi vir vroue, Sunette Viljoen Woendagaand gaan aantree nie. – RUFUS BOTHA