Servaas de Kock
Sal dit moontlik wees in jou onderneming om ’n enkele dag sonder e-pos te gaan? Sal dit vir jou werknemers moontlik wees om een enkele dag klaar te kom sonder om ’n e-pos te stuur? Die eerste reaksie van die meeste besigheidseienaars sal wees dat hulle besigheid nie kan funksioneer sonder e-pos nie. Dit is heel moontlik so, maar hoeveel tyd spandeer die gemiddelde werknemer vandag op e-posse? Is dit goed vir besigheid en het ons nie té gemaklik geraak met e-posse nie?
My opinie is dat 60% van e-posse vandag in besigheid nie relevant is tot primêre besigheid nie. E-posse het té maklik geraak om te stuur en dit is te gerieflik om ’n e-pos aan te stuur vir iemand anders met die woorde “FYI” of “FYA”. In die meeste gevalle word lang e-posse nie eers gelees nie. Indien e-pos gebruik nie reg bestuur word nie, kan e-posse ’n negatiewe uitwerking hê op die volgende aspekte:
- Kommunikasie. E-posse kan ’n negatiewe effek hê op interne- sowel as eksterne kommunikasie. Daar word té maklik ’n e-pos vir ’n kollega of kliënt gestuur wat lei tot minder interaksie tussen die betrokke partye. Mense is oor die algemeen geneig om te oorreageer op e-posse omdat verkeerde afleidings dikwels gemaak word. E-posse is nie die ideale manier om probleme op te los nie.
- Produktiwiteit. Wanneer ’n werknemer voor ’n rekenaar sit, word die persepsie geskep dat die betrokke persoon produktief is. Dit kan so wees, maar e-posse kan baie keer ’n werknemer so vasvang, dat die persoon dink hy of sy is produktief en dat dit glad nie die geval is nie. Dis iets wat baie beter bestuur behoort te word.
- Menslikheid. E-posse kan nie menslikheid vervang nie en baie keer gebeur dit dat werknemers e-posse stuur wanneer ’n gewone gesprek baie makliker en effektief sou gewees het.