Kampioene geniet loslootjie in eerste ronde

0
852
Die Toyota Vrystaat Cheetahs vier die 2019-Curriebekertitel nadat hulle die Goue Leeus in Bloemfontein met 31-28 in die eindstryd getroef het. FOTO: NICOLETTE TALJAARD

Die 2020-Carling Currie Cup skop vandeesweek af, en dit is die eerste keer in die geskiedenis van dié gesogte rugbytoernooi dat dit so laat in die jaar begin. Dit sal ook die eerste keer wees dat die wêreld se taaiste plaaslike rugbykompetisie se eindstryd in Januarie beslis word.

Oor die afgelope naweek het die SuperRugby Unlocked-reeks tot ‘n einde gekom en die Bulle van Pretoria is as kampioen gekroon. Hoewel hulle steeds die titel in die Jakarandastad vier, bly dit effens van ‘n bitter pil om te sluk vir die meeste spanne aangesien talle van die spanwedstryde afgelas is weens Covid-19-gevalle. Die enigste twee spanne wat al ses hul wedstryde gespeel het, was die Bulle en die Griekwas.

Die Toyota-Cheetahs het vierde in die toernooi geëinding en as hul momentum nie deur die afgelaste wedstryd teen die Lions gehalt was nie, kon hulle weliswaar sterk aanspraakmakers gewees het. Maar, soos hulle sê, as is verbrande hout.

Die verdedigende Curriebeker-kampioene, die Vrystaat-Cheetahs, sal egter vandeesweek nie in aksie wees nie aangesien hulle ‘n loslootjie geniet. Dit is inderdaad nie ideaal vir ‘n span om nie in die eerste ronde te speel nie, veral omdat hulle verlede week afgesluit het met ‘n sege teen die Griekwas in die SR Unlocked-reeks.

Die Cheetahs kan wel nog beslou word as aanspraakmakers om hul titel te verdedig, maar dit sal beteken dat hulle aanstaande week weer vinnig op die perd moet klim en die Blou Bulle op Loftus Versfeld moet troef.

Die Curriebeker skop Vrydagaand op Kingspark af met die Haaie in aksie teen die Poemas. Die kragmeting begin om 19:00. Saterdagmiddag om 16:30 speel die Poubloues in Kimberley teen die Goue Leeus, en om 19:00 stamp die Streeptruie en Blou Bulle koppe in ‘n laaste Noord-Suid-buurstryd op Nuweland. – MORGAN PIEK