Kampeer in ‘n woonwa met oemf!

0
1397
Albert de Klerk en Magdalena Aucamp FOTO: DIRK KOK

Die word “pzazz” beteken onder meer aanloklik, lewenskrag, mooi en is ‘n beskrywende word vir iets met oemf. Dit is ook die naam van ‘n skaars en uitsonderlike woonwa wat deesdae ‘n versamelaarsitem is.
Onder die manne en vroue wat verlede week in die Forever Gariep-oord in die Vrystaat die heel eerste P’Zazz-woonwasaamtrek gehou het, was die Bloemfonteinse sakeman en voormalige lugmagkommandovlieënier, Albert de Klerk, en sy vriendin, Magdalena Aucamp.
Die 82-jarige Albert en 83-jarige Magdalena was die oudste kampeerders in die groep wat vir die week langs die Gariepdam gekamp en gekuier en saans langs die vuur P’Zass-stories en kampstories vertel het. Al het Albert en Magdalena albei meer as 80 somers agter die rug, kamp hulle steeds met pzazz en met oemf.
Albert, eienaar van Sign Centre in die Bloemfonteinse middestad en eertydse reserwemagvlieënier van Bloemspruit se 106 Eskader wat van regters tot weermaghoofde oor die land heen gevlieg het, en Magdalena was daar met hulle 6,5 m lange P’zazz-vierwieler.
Albert is een van min mense wat sê hy het sy wa splinternuut by die ontwerper en bouer van die P’Zass, wyle Wildrich Groenewald, gekoop. Groenewald, ‘n argitek en binnenshuise ontwerper van Vereeniging, was een van die land se voorste woonwa- en ryhuisontwerpers en bouers. Sy WJ Motorhomes het die P’zazz van die vroeë tot die middel 1990’s gebou en daarna het die woonwabouers Jurgens dit vir nog vier jaar gebou, tot dit te duur geword het.
Albert vertel hy het op een van sy kamptogte in 1993 in Zimbabwe die P’zazz die eerste keer in ‘n kampeertydskrif gesien.
“Terug by die huis het ek dadelik vir Wildrich gebel en is ek na die fabriek toe in Vereeniging. Ek het vir hom gesê hy moet dadelik vir my een bou en binne drie maande het ek my wa gehad. Ek kamp al van 1960 af en van 1993 kamp ek met my Pzazz.”
Vir Albert is daar, soos vir res van die Pzazz-eienaars, g’n ander wa as ‘n P’Zass nie.
“Dis die beste wat ooit gebou is. Jy het al die geriewe van ‘n huis, van ‘n dubbelbed tot ‘n badkamer met ‘n toilet en stort en warm water.”


Gideon (Giep) de Swardt, van Pinetown, het hierdie eerste P’Zass-saamtrek gereël
“Ek sou die nuwe P’Zass wou sien as Wildrich Groenewald vandag nog geleef het. Daar is nie ”n ander karavaan in die land wat langs ‘n P’Zass kan staan nie, finish en klaar. Ek het vier jaar terug my P’Zazz-seswieler (7,5 m lank) gekoop. Toe het ek begin wonder hoeveel van hulle hardloop nog in die land en begin huiswerk doen. Ons staan nou op 16 eienaars op ons WhatsApp-groep en ek het intussen nog twee opgespoor. Ek wil almal opspoor.
“Ons het lekker gekamp hier in die Vrystaat en wil nou jaarliks ‘n saamtrek hou. Volgende jaar wil ons Kaap toe in een lang P’Zazz-konvooi.”
Mense wat ‘n P’Zass besit, kan vir Gideon by 074-660-0948 bel of vir hom ‘n boodskap stuur.

Dirk Kok
dirk@centralmediagroup.co.za