Kaartjies vlieg vir Vryfees

0
2008

Maricelle Botha

Skaars drie weke na die opening van kaartjieverkope vir vanjaar se Vryfees, het Steve Hofmeyr dit reggekry om man-alleen die Callie Human-sentrum met sy meer as 1 300 sitplekke byna vol te maak. Op die lys van topverkopers het Elize Cawood en Wilson Dunster se Die-hoe-se-wat-se-wie-nou-weer opgeskuif na die derde plek.

Kaartjieverkope vir Heidi het ook opgeskuif om die immergewilde kinderstuk die negende plek te laat inneem. Volgens feesorganiseerders is die gewildste verkopers vanjaar ‘n sprekende voorbeeld dat die legendes in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf uiters gelief onder die Vryfeesgangers is. Adri Herbet, hooforganiseerder van die fees, sê dat dit uit  vanjaar se verkope duidelik is dat verkope kan toeneem as die programinhoud verbeter word. Kaartjieverkope het verlede week ‘n 6% groei getoon teenoor die oorstemmende tydperk verlede jaar. “Verlede jaar het talle feesgangers gevra wanneer hulle Steve Hofmeyr weer op die fees kan verwag. Ons het geluister en tot dusver blyk dit die gewildste vertoning op die program te wees.”

Feesgangers sou ook opgelet het dat die meeste produksies op vanjaar se fees gesentreer is rondom die kampus. In die verlede is daar onder meer gebruik gemaak van die Sand du Plessis-teater asook die André Huguenet-teater. Die redes hoekom hierdie twee lokale vanjaar nie gebruik sal word nie is volgens Herbert bloot logisties. “Al ons kaartjieverkope word deur  Computicket hanteer bloot omdat dit vir feesgangers buite die stad makliker is om kaartjies te koop. Pacofs dring egter daarop aan dat ons van hulle loket gebruik maak. Dit maak dit moeilik vir feesgangers.”

‘n Nuwe aanbod op vanjaar se fees is die Township Arts Experience wat op 6 Julie om 11:00 die fees inlui. Die Township Arts Experience verskaf ‘n platform vir inheemse talent om hul kunswerke aan die publiek bekend te stel. Die stigtingsgeleentheid word in Batho met sy ryk geskiedenis aangebied. Gemeenskapslede se huise in Maghotistraat sal gebruik word om kunstenaars van omliggende dele in die Vrystaat se kuns te vertoon. Handwerkers sal hul kreatiewe handgemaakte produkte op die sypaadjies verkoop. Interkulturele kos sal ook voorberei word. Herbet se die doel van die projek is om gemeenskappe op ‘n positiewe manier aan die kunswêreld voor te stel. Dit bevorder die gebruik van openbare plekke, maatskaplike integrasie en vryheid van beweging. Busvervoer is beskikbaar en vertrek om 10:30 en 12:00 van die UV af. Dit is gratis.

Die fees sal vanjaar van 9 tot 14 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaasvind. Kaartjies vir die Vryfees is by Computicket te koop. Vir die gerief van Bloemfonteinse feesgangers is ‘n kaartjieverkooppunt vanjaar weeksdae by die Odeion op die Kovsie-kampus van 08:00 tot 16:30 oop.

maricelle@centralmediagroup.co.za