GEORG VAN ECK
Die gewilde jaarlikse Super Series-rugbytoernooi van Grey Kollege Primêr vind weer vanjaar op die velde van die skool in Bloemfontein plaas van 24 tot 28 Maart. Vanjaar sal daar 26 spanne in aksie wees en daar trek 762 spelers en beamptes saam vir die toernooi wat deur Top-Lay, Vodacom, Itec en ander borge moontlik gemaak word. Dit beloof ’n ware rugbyfees te wees.
Die toernooi, wat in ’n o.13 A-, o.13 B- en o.11-afdeling beslis word, het reeds ’n belangrike toernooi geword vir skole vanoor die land om spanne voor te berei vir die res van die seisoen. Baie skole stuur gereeld spanne na die toernooi.
Die o.13 A-spanne wat in aksie sal wees, is: Rustenburg, Stephanus Roos, Selborne, ’n Bloemfonteinse ontwikkelingspan, Newton, Rooihuiskraal, Eversdal, Kenmare, Randhart, Vastrap, Kruinsig en Grey.
In die o.13 B-afdeling sal ses spanne van Grey, Vastrap, Erversdal, Muldersdrift, Eureka en Rustenburg in aksie wees.
Agt o.11-spanne sal sake in hul afdeling uitspook. Grey het twee spanne ingeskryf en hulle sal teen Randhart, Kenmare, Rustenburg, Eversdal, Rooihuiskraal en Selborne kragte meet. Die kaalvoetkannetjies wat sake op die rugbyveld moet uitspook word in hierdie paar dae groot maats, want hulle woon, eet en slaap saam in die koshuise van Grey en Eunice gedurende die week.
Al die wedstyde word op Grey se hoofveld en die Ovaal gespeel en die eerste wedstryde begin op Maandag om 09:15. Die uitspeelwedstryde word Dinsdag en Woensdag beslis.
Die eindstryd vir die o.11- en o.13-span word Donderdag om 09:45 en 10:30 beslis waarná die oorhandiging van die trofeë om 11:30 sal plaasvind.