‘Jul oupa was ʼn koffiekoning’

0
997

Liewe Kinders,
Ek dink al die hele dag aan jul oupa wat vandag 100 jaar oud sou word. Het ek julle ooit vertel hoe lief hy vir koffie was?
Oupa het tussen 8 en 10 koppies per dag gedrink, ondanks Ouma (wat ‘n dokter was) se besware. “Daar is mediese navorsing wat bewys koffie is gesond vir jou,” sou hy sê. “Dit keer dat jy Alzheimers kry.” Wie die navorsing gedoen het en waar dit gepubliseer is, kon hy nie onthou nie.
Ek het een keer vir hom gevra hoeveel koffiemasjiene hy het. Hy het my kombuis toe gevat en begin uitpak. Toe hy klaar was, staan daar 17 verskillende koffie-apparate op die rak. Filtermasjiene, perkuleerders, plunjers, spesiale stoom-apparate, twee Nespresso-masjiene, tot ‘n reuse-koffiemaker wat self die pitte kon maal. “Elkeen gee ‘n ander smaak,” het hy verduidelik. “En jy móét afwissel.”
Oupa het niks van die term “barista” gehou nie. “Dis net ‘n fancy woord vir ‘n glorified kroegman,” het hy gebrom. “En hulle koffie is koud.”
Sy koffie moes vuurwarm wees, altyd met gekookte volroommelk en genoeg bruinsuiker. Deel van sy koffieritueel was om, sommer voor gaste, met sy wysvinger en duim die velletjie wat bo-op die warm melk dryf, uit die melkbekertjie te haal en dan in sy mond te steek. “Ek hét my hande gewas,” sou hy altyd sê as hy dit slurpend insluk.
Hy was baie lief vir Kloppers. (Kloppers was al destyds ‘n wonderlike familiewinkel in Bloemfontein, wat deur ses broers bedryf is.) Hier het hy heelparty van sy koffiemasjiene oor die jare aangeskaf. Ek onthou nog hoe opgewonde hy was toe Kloppers die eerste keer Mastertons-koffie begin verkoop het. (Dit was ‘n bekende koffiemaatskappy van Port Elizabeth.) “Niks kom by Mastertons se geur nie,” het Oupa dikwels gesê.
As julle vandag koffie maak, kan julle gerus die beker lig op jul oupa. Dit moet net nie Frisco wees nie, hy sal in sy graf omdraai!
Liefde, Pa.

– Albé Grobbelaar