Juan Smith en ysters gee Cheetahs woema

0
700

GEORG VAN ECK

Dit was sommer stukke beter!  Geen wonder nie, want die Cheetahs kon ysters soos Juan Smith, Lappies Labuschagne en Frans Viljoen as plaasvervangers teen die Stormers inspan en dit het daardie bykomende momentum en doelgerigtheid gegee.  Die Toyota Cheetahs het hul Versoeningsuitdaagwedstryd in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein met klipharde verdediging, durf en vernuf 27-26 teen die Stormers beklink nadat hulle rustyd 0-11 agter was.

Nou wag die Bulle op Polokwane om die laaste afronding en kombinasies te toets voor die Super-reeks teen die Sharks afskop.
Net soos Adriaan Strauss, wat die span Cheetahs as haker gelei het, het die Bok-kantman, Smith, die rukkie wat hy op die veld was, groot impak gemaak. Hy het min van sy vermoë verloor sedert hy in 2011 laas gespeel het. Toegegee, dit was ’n  opwarmingswedstryd en die Stormers was nie op volle sterkte nie, maar die feit dat Bokke soos Eben Etsebeth, Duane Vermeulen, Pat Cilliers, Frans Malherbe, Bryan Habana, Gio Aplon, Jaco Taute en Juan de Jongh deur die Stormers ingespan is, gee aansien aan die sege.

Selfs sonder die ystermanne se hulp het die Cheetahs die pap dik aangemaak voor en Naka Drotské en sy afrigtingspan weet nou waaroor hulle beskik.  In die agterlyn is dit nie so klinkklaar nie. Rayno Benjamin was op binnesenter nie ’n sukses nie, hoewel hy gewys het hy wil vanjaar met mening speel.  Die buite-agterspelers het goed verdedig en die min kanse wat hulle gekry het, gebruik. Johan Sadie, Jannie Boshoff, Rocco Jansen en Hennie Daniller het goed gevaar teen die gevaarlike agterspelers van die Kaap.
Ook plaasvervangers soos Barry Geel en Hansie Graaff het stewig vertoon, terwyl Willie le Roux ’n welkome terugkeer gemaak het. Die twee skrumskakels, Sarel Pretorius en Piet van Zyl, het gewys dat hulle angels kan wees, terwyl Riaan Smith goed op losskakel gespeel het.
Die verrassing was egter die uitstekende spel wat die nuweling losskakel Elgar Watts as plaasvervanger gelewer het. Hy het nie net akkuraat pale toe geskop nie, maar sy agterlyn oordeelkundig en glad weggestuur. Hy is gewis ’n aanwins.
Strauss is reg toe hy gesê het die Toyota Cheetahs beskik straks vanjaar oor sy sterkste groep nog.

Punte:
Toyota Cheetahs 27 (0). Drieë: Sarel Pretorius, Frans Viljoen, Rocco Jansen. Doele: Elgar Watts (3). Strafdoele: Riaan Smit, Hansie Graaff. Stormers 11 (26). Drieë: Nizaam Carr (2), Damian da Allende. Doele: Kurt Coleman. Straf: Coleman (3).