Horace Terry
Verlede week het ons gekyk na hoe waardevol jou vermoë om ‘n inkomste te kan verdien werklik is, en hoe ons dit tog nie noodsaaklik ag om dit te verseker deur ongeskiktheidsversekering nie. Een van die hoofredes waarom Suid-Afrikaners te min, of geen ongeskiktheidsversekering het nie, is omdat ons glo dat ongeskiktheidsgebeurtenisse met ander mense gebeur en nie met ons nie. Nog ‘n mite oor ongeskiktheid is dat dit veroorsaak word deur ‘n eenmalige, katastrofiese gebeurtenis soos byvoorbeeld ‘n motorongeluk. Statistiek gee egter ‘n ander prentjie. Die hoofoorsake van ongeskiktheid is baie keer weens chroniese toestande soos spier- en beenafwykings. Om nog ‘n beter prentjie te kry oor wat die hoofoorsake vir ongeskiktheid in Suid-Afrika is, is om te gaan kyk na ‘n versekeraar se eise wat betaal is vir ongeskiktheid. Indien ons gaan kyk na ongeskiktheidseise wat deur Sanlam betaal is tydens 2013, lyk die prentjie as volg: 16% van alle ongeskiktheidseise wat deur Sanlam betaal is in 2013 was vir kanker en gewasse, 14% was vir kardiovaskulêre toestande, en 14% vir gebeentes, rug, gewrigte en bindweefsel. ‘n Verdere 10% van alle eise was vir siektes van die senuweestelsel en sintuiglike organe, 9% was vir ongelukke, vergiftiging en geweld, en 8% vir geestestoestande. Uit bogenoemde statistieke is dit nou duidelik dat gebeurtenisse wat ongeskiktheid kan veroorsaak eintlik baie algemene toestande is waarmee baie van ons daagliks te doen het en dat dit juis nie ‘n katastrofiese eenmalige gebeurtenis hoef te wees nie. Die gevolgtrekking wat nou gemaak kan word, is dat ons almal baie meer kwesbaar is vir een of ander toestand wat ongeskiktheid kan veroorsaak. Natuurlik, hoe jonger iemand is, hoe noodsaakliker is dit om ongeskiktheidsversekering te kry, aangesien jy vroeg in jou loopbaan staan en nog heelwat inkomste in jou lewe moet verdien, en ook nog heelwat uitgawes en/of skuld mag hê. Dink maar net aan die gevolge wanneer ‘n 35-jarige persoon ongeskik verklaar word, nie meer ‘n inkomste kan verdien nie en daar steeds van hom of haar verwag word om die paaiement op ‘n R1 miljoen-huisverband te betaal.
* Terry is ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Nassaux Blouster.
Date: